Hier in die hartjie van die Vrystaat is die winterlug kóúd, maar die kunste laat die hart wárm klop. Die kunste én ’n lekker warm pannekoek en koppie boeretroos met musiek in die agtergrond. Of dit nou klinkende simbale is of die blye galme van stemme en klawers. Sonder musiek is ons niks nie . . .
Die oeroue kuns van musiek is vir baie musikante meer as net ’n beroep. Dis ’n leefstyl. Dis ’n integrale deel van hul lewe. Die bloed wat deur die are vloei en die asem wat lewe gee.
Musiek het hom gekies en nié andersom nie, het die pianis Charl du Plessis eenkeer gesê.
Die musiekuitvoering is ’n magiese voorstelling van die musiekmaker se werklikheid. Van sy of haar pyn, haat, liefde of geluk.
Dit neem jou as anonieme mens in die gehoor op ’n reis waarop jy jou oë kan toemaak en jouself kan oorgee aan die swaartekrag.
Dit is note en lirieke en woordkuns.
Jaarliks bring die woordtowenaars van musiek (of woordenaars, as jy wil) hul kuns na ons op die Vrystaat Kunstefees.
Legendes soos die Liedjieboer, Anton Goosen, Mystic Boer, Valiant Swart, en Koos Kombuis het diep spore hier getrap. En jonger generasies geïnspireer, soos die jong Danie du Toit van Spoegwolf.
Die generasies kunstenaars wat al op hierdie feesterrein gestap en hul passie op die verhoog uitgeleef het, maak die fees ekstra spesiaal. Talent kom. Talent gaan. Die kunste bly.
Maar ons het nog ’n rukkie tyd om saam te vier op vanjaar se fees!