Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Trio bring nuwe ervaring
Charl du Plessis van die Charl du Plessis-trio.

Die oud-Bloemfonteiner en gevierde pianis Charl du Plessis beskryf sy verbinding met Bloemfontein as “diepgaande” en “baie spesiaal”.

Hy sê van sy beste herinneringe lê in die stof van Bloemfontein. Daaronder tel onvergeetlike oomblikke in die Sand du Plessis-teater, waar hy wêreldklasoperas, ballette en simfoniekonserte kon sien.

Hy keer jaarliks tydens die Vrystaat Kunstefees terug na die plek waar sy wortels is.

Du Plessis is vanjaar saam met Werner Spies en Hugo Radyn te sien as die veelbekroonde Charl du Plessis-trio. Feesgangers sal getrakteer word op ’n splinternuwe betowering met die debuutproduksie Charl du Plessis Trio: Opposites Attract.

Du Plessis beperk nie sy musiek tot een genre nie, en het sy eie stempel op bekende genres soos klassieke musiek en jazz geplaas.

Saam met Spies (baskitaar) en Radyn (dromme), is die trio in 1997 van stapel gestuur.

Ons het met Du Plessis oor die trio gesels en hom gevra wat gehore van hul vertoning op die Vrystaat Kunstefees kan verwag.

Hoe het die trio ontstaan?

Vir ’n geruime tyd het ek jazz op my eie bestudeer en gespeel, maar wou algaande graag saam met bas en tromme speel om bietjie die wêreld van jazz­musiek op die interaktiewe manier te verken. So, in 2007 het ek Werner Spies en die vorige tromspeler van my trio, Hugo Radyn, ontmoet en ons het ’n demo opgeneem om destyds by die KKNK ’n show te kon inskryf. Dit was die begin van alles waar ons toe bly saamspeel en ’n jaar later ons eerste CD opgeneem het.

Hoe sal jy jul musiek kortliks vir iemand kan beskryf?

Ons speel crossover-musiek – dis bekende klassieke musiek wat ons in ons eie styl “opjazz” of herverwerk en interpreteer. Dit sluit ook ’n hoë mate van improvisasie in.

Hoe verloop ’n normale oefensessie gewoonlik vir julle?

Koffie. Uitpak. Deur die nuwe musiek gesels; ek speel gewoonlik eers voor wat ek in my gedagtes het. Dan lees ons deur die musiek en speel dit deur; gesels daaroor en bespreek wat ons kan verbeter. Herhaal die proses ad infinitum.

Wat kan gehore van die Charl du Plessis-trio se konsert op vanjaar se fees verwag?

Operamusiek sonder ’n sanger gaan hulle lekker laat luister – ek is baie lief vir stemme en vokale musiek, maar hier skep ons ’n nuwe ervaring met instrumentale weergawes van bekende opera-arias. Die teenoorgesteldes is die wêrelde van jazz en opera wat hier langs mekaar en teenoor mekaar gestel word.

Wat is vir julle die hoogtepunt van om by die Vrystaat Kunstefees te kan optree?

Die mense. Bloemfonteinse gehore is kundig en waarderend, en natuurlik bly die Odeion een van ons gunstelingsale in die land.

Volgens jou eie ervaringe, wat is die grootste uitdaging vir enige musikant tydens so ’n fees?

Alles gebeur so vinnig van wanneer die vorige produksie uittrek en ons intrek. Ek haat die gejaag en daar is gewoonlik nie tyd om enige veranderinge te maak aan posisies, die klavier weer te laat stem of rustig deur alles te speel nie. Dis gewoonlik set up and go!

Dink julle ’n kunstefees, soos die Vrystaat Kunstefees, is ’n goeie platform vir opkomende kunstenaars?

Ja, dit is beslis en dit vier ook plaaslike Bloemfonteinse talent, wat nog altyd van baie hoë gehalte was. Sonder die fees sou daar ’n gat op die jaarlikse kalender wees en sou ’n groot kulturele voedingsbron vir gehore en kunstenaars verlore gaan.

  • Die trio vertrek direk ná die fees na Switserland, waar hulle in ’n interaktiewe balletproduksie musiek in die Alpe gaan maak en ook hul eie jazzkonserte speel. Verder lê toere na China voor. Du Plessis is weer in Oktober as solis te sien in samewerking met die Vrystaatse Simfonieorkes in Bloemfontein. Die Charl du Plessis-trio se Opposites Attract kan Donderdag om 20:00 en Vrydag om 13:30 in die Kunstetrust-Odeion gesien word. Kaartjies kos R130 by Computicket.
Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Musiek  |  Stronk  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.