Presies 22 jaar nadat die teaterstuk Uit die bloute teatergangers ontroer het, het die nuwe produksie gebaseer op Eugène Marais se werk, weer mense in die Rosestad se hartsnare geroer.
Die stuk het as’t ware uit die bloute herrys met een groot verrassing: Lizaan Barnard (Helberg), wat die musiek destyds gekomponeer het, was weer agter die klawerbord. En langs haar was haar seun, Adam (Pyjama Shark), wat kitaar speel.

Paul du Toit en Jenna Dunster op die verhoog in die ontroerende stuk Uit die bloute. Die orkes bestaan uit Lizanne Barnard, wat die musiek destyds gekomponeer het, haar seun, Adam (Pyjama Shark), Leon Ecroignard en Jahn Beukes. Foto’s: Mlungisi Louw
En soos toe is dié verwerkings van Marais se gedigte steeds huilmooi. Die klank is aangepas met meer harmonisering en die Afrika-klanke met koedoehorings en tromme klink meer modern as toendertyd.
Die trefkrag is egter dieselfde.
Giep van Zyl, die vervaardiger, het bevestig: Die pragtige musiek is inderdaad onsterflik.
Marais leef deur sy gedigte soos Dans van die reën en Mabalel voort, met die Afrikaans wat danksy Lizanne steeds dans op die oor meer as ’n eeu nadat dit geskryf is.
Die rolle van Hendrik, die boer, en sy vrou, Ragel, word nou deur Paul du Toit en Jenna Dunster vertolk. Hulle is 22 jaar gelede deur Gys de Villiers en Anna-Mart van der Merwe op die planke laat lewe.
Die resultaat is ’n nostalgiese, melankoliese reis in die hart van Afrikaanse teater wat vermaak en ontroer.