Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stronk
Van Coke-fees
Francois van Coke. Foto: Elizabeth Sejake

Die gewilde rocker Francois van Coke is een van die talle kunstenaars wat vanjaar op die Blêrkas-verhoog tydens die Vrystaat Kunstefees sy buiging sal maak.

Behalwe vir die Vrystaat Kunstefees, het Van Coke nog vele opwindende planne vir 2018.

Van Coke is al ’n huishoudelike naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, met ’n aanhang wat by die dag groei.

Hy het in 2015 met vele waagmoed sy debuutsolo-album uitgereik, wat onder meer die groot treffer “Toe vind ek jou” saam met Karen Zoid bevat.

Die album het groot hoofstroomsukses tot gevolg gehad, wat gelei het tot talle Ghoema- en Sama-pryse. Ná dié hoogtepunt in Van Coke se loopbaan, het die vraag opgekom van hoe om relevant tot die mark te bly.

Volgens Van Coke probeer hy nie regtig te veel aan die “mark” dink nie. “Ek probeer net relevant bly met wat rondom ons in die wêreld gebeur en probeer ook om eerlik met myself te wees. Ek dink my aanhangers waardeer die eerlikheid.”

Op 15 September 2018 vind “Francois van Coke en Vriende” in die Times Square Sun Arena in Pretoria plaas waar Van Coke die verhoog met klomp van sy musikantvriende deel.

“Ons gaan basies die grootste klomp liedjies uit my 15 jaar lange loopbaan speel en my vriende gaan by my op die verhoog aansluit. Ek het al saam met al die kunstenaars en bands geskryf en ons wil graag die liedjies vier wat ons saam geskryf het. Almal is ook goeie vriende!”

Kunstenaars soos Arno Carstens, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Jack Parow, Early B, Majozi, Coenie de Villiers, Laudo Liebenberg, Van Coke Kartel, F*polisiekar en Die Gevaar sal almal op een verhoog te sien wees.

Volgens Van Coke het die idee van die konsert ’n paar jaar gelede ontstaan toe een van sy vriende in Pretoria ’n saadjie geplant het. “Dit is die grootste event wat ek al aangepak het en ek wil dit baie graag ’n onvergeetlike aand vir almal maak. Hopelik kan ons dit aanhou doen in die toekoms.”

Van Coke en sy orkes, Die Gevaar, was ook in 2017 te sien op die Vrystaat Kunstefees. “Ek kom min in die Vrystaat. Een of twee keer ’n jaar, maar is mal oor die Vrystaatse Kunstefees en is baie bly om weer vanjaar hier te kan speel.”

Sy aanhangers kan sy gewilde rockliedjies van sy eerste twee solo-albums asook ’n F*polisiekar- en Van Coke Kartel-treffer of twee verwag.

Volgens hom is die hoogtepunt daarvan om by ’n fees soos die Vrystaat Kunstefees op te tree die platform wat gewoonlik ’n bietjie groter is, asook die mense en die feesgees.

Aanhangers kan ook ’n derde solo-album verwag wat in 2019 vrygestel gaan word. Op 13 Julie reik hy egter ’n kortspeler, ook getiteld “Francois van Coke en vriende”, uit. Dit sal vier snitte bevat in samewerking met Jack Parow, Die Heuwels Fantasties, Early B en Laudo Liebenberg.

Maar vir eers plaas Van Coke homself in die skoene van ’n feesganger hier in Bloemfontein.

  • Hy tree op 12 Julie om 21:00 by die Blêrkas op. Kaartjies kos R60 by Computicket of by die deur.
Meer oor:  Francois Van Coke  |  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees  |  Kunstefeeste  |  Stronk  |  Feeste  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Stronk Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.