Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gene Louw (84) trap diep spore
Gene Louw (voor in middel) is hier met sy kinders, hul gades, asook sewe kleinkinders. Hulle is (voor van links) Francois met Jean, Hanneke, met Etienne, Anelia, Gene met Eugene (jr.), Hantie, Caro en Eugene. Agter is André, Jackie, Daneel, Ju

Oud-administateur van die Kaapprovinsie, oudminister van verdediging en openbare werke en prokureur tot sy afsterwe op 84-jarige leeftyd – hoe mense hom ookal onthou, Gene Louw het diep spore getrap.

Louw is verlede Maandag 12 Oktober in die Mediclinic Durbanville oorlede ná ’n lang stryd met longontsteking en leukemie.

Verskeie geboue en ook die Laerskool Gene Louw in Durbanville is na hom vernoem.

Sy seun Francois Louw (49) van Welgedacht het gesê sy pa het “’n onblusbare passie vir die lewe gehad en het net die positiewe gesien. Tot die einde was hy positief en het hy daarna uitgesien om huis toe te gaan. Hy het nooit oor sy siekte gepraat nie en was nie ’n mens wat gekla het nie,” het hy gesê.

Louw, gebore op 15 Julie 1931, het aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer.

Hy was werksaam by die destydse Kaapse provinsiale administrasie van 1949 tot 1952 as klerk. Hy het van 1953 tot 1957 aan die Universiteit Stellenbosch studeer en verwerf die graad BA LLB.

Hy was onder meer voorsitter van die studenteraad (1956/57), primarius van die Private Studente Organisasie (1956/57) en het die Abe Bailey-reisbeurs na die Verenigde Koninkryk in 1957 ontvang.

Hy het in 1993 die Universiteit Stellenbosch se alumnus van die jaar-toekenning ontvang.

Louw het van 1958 tot 1979 in Durbanville gewoon, waar hy tot 31 Augustus 1979 en weer van 1993 tot hede as prokureur praktiseer het.

Louw was ook burgemeester van Durbanville vir ’n periode van vyf jaar van 1967 tot 1972, waarna sy politieke loopbaan ontwikkel het tot hy as administrateur van die Kaapprovinsie van 1979 tot 1989 aangestel is – die jongste administrateur in die geskiedenis van Kaapland.

Hy was ook kabinetsminister van 1 Julie 1989 tot 31 Maart 1993. Louw was ook onder meer voorsitter van die destydse Kruik van 1982 tot 1988, beskermheer of ere-visepresident van ongeveer 40 sportliggame en gemeenskaps- en diensorganisasies.

Hy was ’n groot WP-rugbyondersteuner en het op sy dag self vir die Universiteit Stellenbosch se eerste span uitgedraf, asook die gekombineerde Suidelike Universiteite-span. Hy het ook erekleure vir rugby aan die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Hy was beskermheer van die WP Rugbyunie vir 10 jaar, het erekleure van die WP Rugbyunie, asook die Universiteit Stellenbosch-atletiekklub ontvang. Hy was ook die beskermheer van die Durbanville-rugbyklub.

Van die geboue wat na hom vernoem is, was die Gene Louw-sportkompleks op Moorreesburg, die Gene Louw-verkeersopleidingsentrum in Brackenfell, asook die Gene Louw-onkologiegebou vir die behandeling van kanker by Tygerberg-hospitaal.

Hy het ná sy uittrede uit die politiek in 1994 vir ’n verdere 21 jaar weer as prokureur gepraktiseer by Louw andamp; Coetzee in Durbanville en was met sy dood steeds as konsultant werksaam.

Louw word oorleef deur sy vrou, Hantie, sy dogter, Anelia van Welgedacht, ’n sielkundige, asook drie seuns, Francois, ’n prokureur en ook van Welgedacht, André, ’n tandarts in Londen, en Eugene, ’n narkotiseur van Durbanville, asook sewe kleinkinders. Hy is Vrydag vanuit die NG Kerk Sonstraal in Durban­ville ter ruste gelê

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.