Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Afrigter kry trekpas
6

’n Rugbyafrigter by ’n hoërskool in die noordelike voorstede is deur die skool se beheerliggaam afgedank ná onder meer onwelvoeglike seksuele optrede teenoor van die seuns.

Dit kan egter nie deur die polisie ondersoek word nie, aangesien die ouers van die seuns besluit het om nie strafregtelike klagte by die polisie aanhangig te maak nie “om hul kinders te beskerm”.

Die seksuele molestering van seuns is ’n groter probleem en gebeur meer dikwels as wat mense dink, het dr. Hugo Theron, ’n sielkundige in Welgemoed, by navraag aan TygerBurger gesê.

Volgens hom toon internasionale studies dat minstens een of twee uit elke 20 seuns slagoffers hiervan is.

Die voorsitter van die skool se beheerliggaam het gesê dié rugbyafrigter is dissiplinêr deur ’n onafhanklike party verhoor en op onder meer ses klagte (wat verband hou met drie voorvalle) skuldig bevind.

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy verlede jaar en vanjaar onwelvoeglike voorstelle van ’n seksuele aard teenoor twee seuns gemaak het.

Hy het hulle onder meer herhaaldelik gevra of hy hul testikels en/of prostaat kan ondersoek.

Hy het ook tydens ’n rugbytoer vanjaar ’n foto van ’n gestimuleerde manlike geslagsorgaan in ’n styfpassende onderbroek aan een van die seuns gestuur en gevra dat die seun vir hom ook foto’s van homself stuur. Geeneen van die seuns het egter tot hierdie versoeke ingestem nie, sê hy.

Volgens die beheerliggaam-voorsitter weet hulle ook van ’n derde slagoffer, maar dié seun se ouers wou nie hê dat hy in die dissiplinêre verhoor getuig nie “om hom te beskerm”.

Al die seuns was in van graad 10 tot 12 toe die voorvalle plaasgevind het.

Volgens die beheerliggaam-voorsitter is die skool ingelig deur die staatsaanklaer en die polisie dat, omdat minderjariges hierby betrokke is, strafregtelike klagte slegs deur die polisie ondersoek kan word indien die ouers, of wettige voogde, van die seuns die voorvalle by die polisie gaan aanmeld.

Volgens die beheerliggaamvoorsitter is hy teleurgesteld dat die ouers nie strafregtelike klagte aanhangig wil maak nie. 

“Ouers wil hul kinders beskerm. Hulle voel hul kinders is reeds getraumatiseer, en dat hulle verder getraumatiseer sal word as hulle moet getuig – ook dat hulle moontlik geboelie kan word oor die gebeure as dit sou uitkom. Ek is teleurgesteld, maar verstaan hoekom en sou waarskynlik ook só besluit het. Dit is en bly ’n baie moeilike besluit om op te weeg teenoor jou plig om na vore te kom om sulke mense verantwoordbaar vir hul dade te maak,” het hy gesê.

“Dit is egter belangrik dat skole nie sake soos hierdie probeer toesmeer of onder die mat vee nie. Ek is tevrede dat ons by ons skool die nodige gedoen het. 

“Die saak is aan die polisie en ook aan die senior staatsaanklaer oorhandig, hoewel niks hiervan gaan kom nie, tensy die ouers klagte aanhangig gaan maak. 

“Toe die bewerings aanvanklik aan die lig gekom het, is die afrigter tydelik geskors met onmiddellike effek om enige verdere kontak met moontlike slagoffers te voorkom tydens die ondersoek wat deur die skool gedoen is. Hy is ook direk ná skuldigbevinding onmiddellik permanent geskors,” het hy gesê.

Die skool het ook verskeie maatreëls in plek gestel om die seuns by te staan. Dit sluit in ’n ondersteuningspan wat die seuns op individuele en groepsbasis ondersteun en hulle is ook berading deur die skool se maatskaplike werker en sielkundige aangebied, volgens hom.

Die naam van die skool, asook die naam van die voorsitter van die beheerliggaam, word weerhou om die identiteit van die oortreder te beskerm. Hy mag nie geïdentifiseer word nie, omdat hy nie strafregtelik aangekla is nie en dus nie in ’n hof verskyn en op die klagte gepleit het nie.

Mellicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het by navraag bevestig die rugbyafrigter is deur die beheerliggaam aangestel en is na afloop van ’n dissiplinêre verhoor ontslaan. 

“Die skool het aangedui dat hy die nodige ondersteuningsdienste aan die leerders bied. Die voorvalle is aan die polisie gerapporteer, maar die ouers het besluit om nie verdere strafregtelike stappe te neem nie,” het sy gesê.

By navraag deur

TygerBurger aan dr. Theron of dit in slagoffers se belang is dat sulke oortreders aan die pen ry, het hy gesê dis moeilik om te sê wat in elke individuele kind se beste belang is. 

“Dit is vir seker só dat hulp en ondersteuning vir die kind van onskatbare waarde is en móét gebeur, maar dit sluit in die ondersteuning van ouers, familie en die skool.

“’n Regsproses kan bemagtigend wees vir die seun met wie so iets gebeur het. Terselfdertyd kan dit ook traumaties wees, veral as die beweerde oortreder weens tegniese of ander redes onskuldig bevind word. 

“Navorsing wys duidelik dat as daar nie goeie ondersteuning (wat sielkundige hulp insluit) is vir die kind of tiener wat aan seksuele molestering blootgestel was nie, daar ernstige langtermyngevolge kan wees. 

“Dit sluit in depressie, angs, verhoudingsprobleme, selfbeeldprobleme, skuldgevoelens en selfblaam, asook seksuele probleme,” het hy gewaarsku.

“Hoewel daar geen verskoning is vir ’n volwassene wat kinders molesteer nie, is die meerderheid van sulke oortreders self as kinders aan molestering blootgestel – hetsy emosioneel, fisiek of seksueel,” het hy gesê. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.