Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Akteurs vergeet Bellville nie

Die nuwe Afrikaanse fliek Vergeet My Nie spog met nie minder nie as drie akteurs wat ’n deel van hul lewe in die noordelike voorstede van Kaapstad deurgebring het.

Sean-Marco Vorster (28) en Marguerite van Eeden (22), wat die hoofrolle vertolk, was onderskeidelik leerders aan die Laerskool Eversdal en die Laerskool Welgemoed.

Albei is daarna na Paarlse hoërskole.

Kenley Swart (26), wat Lara Hattingh speel, was in die Laerskool Bellville-Noord en die Hoërskool D.F. Malan.

Die storie agter die fliek

Die fliek is deur die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks geïnspireer.

As wenners van Huisgenoot en kykNET se tweede fliekkompetisie, is die Derkse se storie gekies om in ’n film omskep te word, wat op Valentynsdag in teaters begin draai het.

In die storie maak kykers kennis met Mardaleen, ’n stadsmeisie wat vasgekeer voel in die “klein” Potchefstroom waar sy studeer. Sy smag na die stadsliggies en opwinding.

Ná haar studie trek sy en haar vriendin, Lara, Londen toe en bly in ’n huis saam met ’n klomp ander Suid-Afrikaners. Sy en haar huismaat, Hugo, beland in ’n ernstige verhouding – die einste Hugo wat sy vlugtig op universiteit ontmoet het. Hy is van Namibië en is van plan om ná sy tyd in Londen terug te keer en te gaan boer.

Liefdesverhale is egter byna nooit sonder kinkels nie en die twee moet eers ’n paar hindernisse oorkom voordat hulle werklik bymekaar kom.

Vir die fliek moes die akteurs onder meer in Namibië en Londen tonele skiet.

Dit was ’n hoogtepunt om oral vir hul werk te reis, maar het ook baie uitdagings meegebring.

“Die reis het ons ook maar moeg gemaak, maar dit was vir seker nie sleg nie,” sê Sean-Marco.

Kenley sê nog ’n uitdaging was om tonele te skiet sodat dit lyk of dit in die somer plaasvind, al was dit in die winter.

“Dit was ongelooflik koud, veral in Potch, en dan het ons karakters hierdie kort 90’s-someruitrustings aan.”

Spanlede het darem byderhand gestaan om tussen tonele deur iets warm oor hulle te gooi.

Bellville en Durbanville sal altyd ’n groot deel van hul lewe uitmaak, vertel die akteurs.

“Ek dink dit was een van die beste plekke om in groot te word as ’n kind,” vertel Sean-Marco van sy grootwordjare in Durbanville.

“Ons het op ons fietse rondgery en in parkies gekuier. Dit was fantasties.”

Marguerite sê Welgemoed, waar haar ouers steeds bly, sal altyd haar huis wees.

Kenley se ouers bly ook steeds in Bellville. “(Dit) is waar al my eerstes gebeur het,” vertel sy. “Ek het my eerste tree onder die groot boom by die ou pastorie in Durbanville gegee, ek’t dansklasse geneem in die ou Voortrekkersaal daar net langs die N1 en ons danskonserte was in die Bellville-burgersentrum.”

Swart onthou ook die rondry op fietse en in parke kuier.

“Ek het geleer bestuur daar in die parkeergebied van die Velodrome en ek het my liefde vir drama verder gekweek en ontwikkel daar agter High Street by The Stage Performing Arts Studio.”

Die kans dat hierdie akteurs almal een of ander sport teen mekaar gespeel het, is egter skraal.

Sean-Marco was in graad 7 in 2004 by die Laerskool Eversdal en Marguerite was in 2010 in graad 7 by die Laerskool Welgemoed.

Kenley was in 2011 in matriek by die Hoërskool D.F. Malan en in 2006 in graad 7 by die Laerskool Bellville-Noord.

Die hede

Deesdae bly Sean-Marco in Linden in Johannesburg, waar hy ’n huis met ’n vriend deel. Hy werk meestal as vervaardiger van advertensies.

Marguerite bly op Stellenbosch, waar sy verlede jaar aan die Stellenbosch-Universiteit haar BA-graad in geesteswetenskappe behaal het.

Sy is in ’n verhouding met die Spoegwolf-sanger Danie du Toit. Kenley bly in Seepunt en gaan by die KKNK in ’n plek-spesifieke toneelstuk te sien wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.