Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Almal staan saam’ teen virus

’n Onsigbare vyand wat sy kloue in Suid-Afrika ingeslaan het, is hoe dr. Guillaume Smit van die NG kerk Brackenfell-Wes se voedselvoorsieningsprojek die Covid-19-pandemie verwoord.

“Sedert die eerste grendeltyd deur pres. Ramaphosa aangekondig is, het die gevolge by elkeen van ons plek ingeneem en vrees het gemanifesteer in hopeloosheid, depressie en ander gesondheidsprobleme,” sê Smit.

“Vrese het ontstaan dat families die virus sal opdoen; dat families geïsoleer sal wees en mekaar nie sal kan sien en versorg nie; dat ons nie behoorlik sal kan afskeid neem van geliefdes nie – hetsy ’n Covid-geval of deur ander oorsake; dat ek of my familie ons werk kan verloor, wat deurlopend gebeur het.”

Hy beskryf die eerste weke van grendeltyd as ’n tydperk waarin ’n somber atmos­feer geheers het.

“Die leë strate en donker winkels met toe deure het die wind uit almal se seile gehaal, en die wêreld is in ’n stilwordtyd ingedwing. Op enige gegewe oggend klop die harde werklikheid aan baie se deure: die nood vir kos en ander noodsaaklikhede om net te bestaan.”

Hy sê die uitkringeffek raak vinniger en groter.

Die dag 26 Maart 2020 sal altyd onthou word as die dag toe die land gaan stilstaan het.

“Met kleinsakeondernemings wat oornag hul deure moes sluit, het die inkomstestroom skielik opgedroog. Groter maatskappye kon net een maand nog salarisse betaal, en ander net die helfte van werkers se salaris.”

Die NG kerk Brackenfell-Wes het reeds voor die pandemie ’n program gehad waarin gesinne in nood met kospakkies gehelp is.

Verder het Marian Nieuwoudt, wyksraadslid, deur ’n projek van die burgemeester, Dan Plato, meer kospakkies ontvang, wat in wyk 8 uitgedeel is.

“Wat toe gevolg het, is suiwer genade van Bo. Met hierdie kospakkies kon meer mense gehelp word. Buurtwagte het saamgewerk en die kerk het verskeie deurry-geleenthede gehou waar kos by die kerk se deur afgegee kon word. Dít is dan weer versprei aan behoeftiges in ’n databank.

“Vinnig het die ruimhartigheid uitgekring en meer rolspelers en kerke het bymekaar gekom en idees uitgeruil,” sê hy.

Smit beskryf die deernis van bure en vriende as ’n samebindende gom wat die gemeenskap laat saamstaan het om ’n nuwe normaal te vestig.

“Brackenfell se mense het gegee en gegee; oproep ná oproep as die koskaste begin leegloop, is aangehoor en die kos het ingestroom.

“Daar was hernude en vernuwende energie en behoefte om te deel met diegene wat nie nou het nie,” sê hy.

Smit spreek ook sy dank uit aan elke skenker, borg en vrywilliger in die nagmerrietyd.

“Sonder elke persoon se bydrae sou hierdie projek nie kon begin en voortgaan nie. Groothartige skenkers buite die grense van Brackenfell dra elke maand by tot die koskas. Ontvang ook hiermee groot waardering daarvoor.”

Smit sê Brackenfell se mense het reeds gewys dat hulle kán saamstaan en in die tyd vorentoe gaan die solidariteit nog lank nodig bly.

“As daar gekyk word na modelle en vooruitskattings, blyk dit dat Covid-19 met ons gaan wees vir minstens 18 tot 24 maande.

“Laat ons saam hierdie onsigbare vyand met sy tentakels aanpak en voortgaan om as gemeenskap saam te staan en God te loof en prys uit dankbaarheid vir dit wat ons elke dag ontvang.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.