’n Bejaarde egpaar is Sondagoggend in Stellenridge, Bellville beroof.
Volgens lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, het die rower omstreeks 06:00 toegang tot die huis gekry deur die kombuisvenster te verwyder.
Die egpaar is glo albei in hul 80’s en die man is verlam.
Hy is na bewering deur die rower uit die bed gehaal en saam met sy vrou met ’n gordel vasgebind en met ’n mes gedreig.
Die rower het toe juweliersware gesteel.
Die vrou het dit later reggekry om te ontsnap en het by ’n buurman hulp gesoek.
Die egpaar is glo albei ongedeerd, maar erg getraumatiseerd.
’n Saak van huisroof word ondersoek, sê Nimb. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Volgens Hennie Groenewald, woordvoerder van die sekerheidsfirma Bassett Alarms, was daar die afgelope paar maande ’n toename in huisrooftogte by huise wat naby die N1 geleë is.
Groenewald glo die misdaadtoename het begin toe konstruksiewerk by die Old Oak-brug ’n aanvang geneem het.