Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bekende VIA-kok en kosskrywer groet finaal

Net vyf maande nadat haar beste vriendin oorlede is, is Florence Schrikker, bekend as tannie Flori, ook huis toe geroep.

Die 67-jarige is Saterdag 12 September in die Netcare N1 Stad-hospitaal oorlede.

Sy was bekend as die moeder van Bonteheuwel omdat sy altyd tyd vir die gemeenskap gemaak het. Haar talent was om kos te maak en dit het sy gedoen saam met haar beste vriendin, tannie Koelsoem Kamalie. Hulle was bekend as Bonteheuwel se beste kokke.

Kamalie en Schrikker was bekend vir hul resepte op RSG se Tjailatyd en dié twee het ook ’n TV-reeks, Flori en Koelsoem se kosse, op VIA gehad. Die twee het met die hulp van Lapa-uitgewers en Amore Bekker hul eerste resepteboek, Kook saam Kaaps, geskryf.

Schrikker se oudste dogter, Yolanda Peters, sê haar ma is einde Julie in die hospitaal opgeneem weens lae bloedsuikervlakke. Sy was ’n diabeet.

“Sy is op 22 Julie, sewe weke gelede, opgeneem. Nadat die dokters haar vir lae bloedsuikervlakke behandel het, het talle komplikasies ontstaan. Die dokters het gereken sy benodig ’n driedubbele hartomleiding, maar hulle kon slegs ’n dubbele omleiding uitvoer as gevolg van komplikasies wat tydens die operasie ontstaan ??het.

“Sy was vier weke in die waaksaal en is daarna na die hoësorgeenheid verskuif. Sy wou nog baie dinge doen, maar haar gesondheid het dit nie toegelaat nie,” sê Peters.

Sy het haar ma beskryf as iemand wat altyd die beste vir die mense rondom haar gedoen het.

“Sy was ’n gemeenskapsvrou. My ma en pa, Alfonso, bly al meer as vyftig jaar in Bonteheuwel. Gedurende hierdie jare het my ma al baie kinders ingeneem en grootgemaak en sy het die gemeenskap gevoer. Sy was ’n ware leier, vriendin en ma vir almal.

“As ’n familie is ons almal gebroke. Ons sal haar baie mis,” sê haar dogter.

Angus McKenzie, raadslid vir wyk 50, het tannie Flori beskryf as ’n Bonteheuwel-staatmaker en held. Sy sal gemis word vir haar wonderlike hart, haar aura en wonderlike geregte wat sy gekook het.

“Haar beste vriendin, tannie Koelsoem Kamalie (ook van Bonteheuwel), is net ’n paar maande terug oorlede.

Aunty Flori se dood is ’n groot skok vir die gemeenskap en in ons hartseer wil ons haar familie bedank dat hulle haar met ons gedeel het – haar talente en haar liefde met elkeen van ons.”

Ná Kamalie se dood in April het Schrikker in ’n onderhoud met TygerBurger vertel die mooiste ding van hul vriendskap was dat hulle kon bewys ’n Moslem en ’n Christen kan saam kosmaak.

“Ons het mekaar se geloof gerespekteer en as ons iets moes doen, het ons altyd voor die tyd gebid. Ons het regtig ’n unieke verhouding gehad,” het Schrikker toe verduidelik. “Sy was meer as ’n vriendin of kollega vir my; sy was my suster. As ons moes reis, het ons in dieselfde kamer geslaap omdat ons nie daarvan gehou het om alleen te slaap nie,” het Schrikker gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.