Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bestel koffie, roof toe

Vyf rowers het hulself glo onlangs as klante voorgedoen by ’n vulstasie se winkel in Panorama en koffie bestel, voordat hulle die onderneming en sy personeel beroof het.

Kontant, ’n selfoon en sigarette is in die rooftog op Vrydag omstreeks 02:00 by die Engen Sonnendal-vulstasie in Uys Krige-rylaan in Panorama gebuit.

Lt.kol. Kobus van Dyk, woordvoerder van die Parow-polisie, sê die vyf verdagtes kan dalk verbind word met twee ander rooftogte in die gebied vroeër die week. Nóg ’n Engen-vulstasie – geleë in Plattekloofweg – is om 01:33 op 10 Januarie beroof. ’n Klerewinkel in Stasieweg in Parow is Donderdag 16 Januarie om 12:30 beroof, sê die polisie.

“Ons hoop dat met dié arrestasies die rooftogte sal stop,” sê Van Dyk.

Volgens hom is ’n koevoet, wat glo gebruik is om die kluis mee oop te dwing, ook Vrydagoggend op die toneel gekry. ’n Koevoet is ook in die ander twee voorvalle van gewapende roof gebruik, sê Van Dyk.

“Die verdagtes het by die winkel ingestap en geëis dat die werkers vir hulle moet koffie maak,” sê Van Dyk.

Hulle het egter die winkel kort daarna beroof.

“Een van die werkers het homself in ’n kantoor toegesluit en die polisie gekontak.

“Die oomblik toe hulle uitstap, het hulle die polisie raakgeloop,” sê Van Dyk.

Die polisie se blitspatrollie het die groep agternagesit en daar was ’n jaagtog en ook ’n oor-en-weer skietery tussen die rowers en die polisie, waarin twee van die verdagtes gewond is.

Die voertuig waarin hulle gevlug het, het in Rileystraat in ’n nywerheidsgebied in Parow tot stilstand gekom, sê Van Dyk.

Die twee gewondes word tans in die Tygerberg-hospitaal onder polisiebewaking behandel. Van Dyk sê een van die verdagtes is ernstig beseer. Geeneen van die personeel by die vulstasie óf die polisie is beseer nie.

Twee verdagtes het daarin geslaag om te ontsnap en een is in hegtenis geneem.

Volgens Van Dyk het die polisie beslag gelê op drie 9 mm-pistole.

Van Dyk was om 05:00 self op die toneel.

“Die gebied was nog afgesper en die forensiese ondersoekspan was besig om die misdaadtoneel te fynkam.”

Siyabulela Malo, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het in ’n verklaring gesê die verdagtes is tussen 30 en 35 jaar oud.

Van die verdagtes sou Maandag in die Bellville-landdroshof op aanklagte van sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens verskyn het.

Badroenesa Josephs van Engen het aan TygerBurger gesê hulle wil in dié stadium nie kommentaar lewer nie.

Die ondersoek duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.