Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Blinde Bonita wys haar radio-staal

Om as ’n blinde persoon op radio uit te saai, is net nóg ’n uitdaging wat Bok Radio se nuwe Spitstyd-omroeper, Bonita Blankenberg, met geesdrif aangepak het.

“Blind is blind, skattebolle, dit gaan nooit verander nie,” het sy koelkop geskerts in reaksie op ’n gesprek oor wat die politieke korrekte terme vir blinde persone deesdae is.

“Jy kan nie enige gestremdheid sugar coat nie. Dit is wat dit is, en jy leef daarmee saam. Daar is nie ’n boksie waarin ons as blindes hoef te pas nie. Jy vat elke nuwe uitdaging aan soos dit kom. Gewoonlik dink mense dat blinde mense nie noodwendig alles kan saam doen nie en dis nie noodwendig waar nie. Ek kan byvoorbeeld nie ’n Boeing vlieg nie, maar kan jy? My drome het nog nooit grense gehad nie,” sê sy.

Bonita (34), ’n joernalis van beroep, is onlangs uit 15 kandidate gekies as die nuwe mede-aanbieder van die radiostasie se huistoegaan-program, nadat Karlien Kruger die stasie in Maart verlaat het.

Die kandidate het vooraf almal ’n paar werkswinkels in die radio-uitsaaiwese meegemaak waarna hulle elkeen ’n kans gekry het om een middag saam met Heinrich du Plooy uit te saai. Bonita was verreweg die luisteraars se gunsteling.

“Om Karlien se skoene vol te staan is nie maklik nie, maar dit is ’n absolute voorreg om die geleentheid te kry. Ek moet myself elke nou en dan knyp om seker te maak ek droom nie. Dat die mense regtig dapper genoeg was om my op die lug te sit,” sê Bonita weer laggend. Dis een kenmerk van haar wat opvallend is – sy lag baie.

Dis juis dié sin vir humor wat haar kop en skouers bo die ander kandidate laat uitstaan het, meen Wimpie van der Sandt, hoof- uitvoerende beampte van Bok Radio.

“Haar aansteeklike laggie het luisteraars verower en daarby saam was haar unieke veggees ’n inspirasie vir baie,” sê hy.

Een luisteraar het die volgende op Bok Radio se Facebook-blad geskryf. “Sy is fenomenaal! Sy het geen bang haar op haar kop nie, dis hoekom ek haar gekies het.”

“Sy het ook die beste geklink op die lug en haar persoonlikheid het duidelik deurgekom en dit is waaroor dit gaan in die radio-uitsaaiwese. Sy is beslis ’n aanwins vir ons,” sê Van der Sandt.

Daarby saam, voeg hy by, besit sy ook ’n breë verwysingsraamwerk deurdat sy interessante gesprekke kan voer.

As ’n blinde persoon op radio is daar natuurlik wesenlike uitdagings, maar Bonita laat dit so maklik en moeiteloos lyk.

Sy beweeg blitsvinnig haar vingers oor ’n eienaardige boksie op haar skoot terwyl sy die middag se verkeersverslag lees.

Van der Sandt verduidelik: “Daar is baie tegniese aspekte in radio wat sig vereis, soos om voortdurend monitors te lees om by te bly. Nuus en verkeersflitse kom vinnig deur en moet ook afgelees word.”

Bonita ontvang die verslae vanaf haar selfoon, wat aan ’n tipe braille-toestel gekoppel word. “Ek noem dit sommer my braille-tablet. Soos die inligting deur die foon kom, word dit as’t ware in braille vertaal, wat ek dan met my vingerpunte kan lees,” verduidelik sy. “Dis soms bietjie moelik as die inligting in Engels deurkom en ek dit blitsvinnig in Afrikaans moet vertaal,” sê sy.

Sy lag weer. “Hoe sou jy nou ’n woord soos multi-vehicle pile-up in minder as ’n sekonde vertaal?”

Bonita is blind gebore en het in Hanover Park grootgeword. “Daar waar hulle eers skiet en dan vrae vra,” sê sy.

Sy het haar skoolloopbaan by die Athlone-skool vir blindes voltooi en haar daarna as joernalis bekwaam aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT).

Sy het verlede jaar terug verhuis Kaap toe nadat sy vir sewe jaar in Johannesburg werksaam was as ’n sosialemedia-fundi by ’n bekende maatskappy.

“’n Vriend het my vertel van die geleentheid by Bok Radio en ek het dit met albei hande vasgegryp. Hoekom nie? Ek voel passievol oor wat ek nou doen en dis ’n groot nuwe uitdaging. Ek het baie om te leer!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.