Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Blink hare sorg vir breë glimlagte

Grts-grts gaan die skêre deur die grys, rooi en selfs pienk hare. Die foelie-“lappies” hang soos ruimtewesens se toebehore aan die etlike nat koppe wat agteroor in die swart gemakstoele oor die wasbakke lê ...

Só het die vlytige vrouegroep van digby die 60 nie ’n kommer in die wêreld op Vrydag 11 Mei gehad nie. Op dié dag het hulle, die senior vroue van wyk 26 van raadslid Franceshka Walker, hul ma- en vrouwees gevier met ’n baie spesiale bederfuitstappie vir Moedersdag gereël deur Walker.

Die nodige reëlings is getref en die bussies het die vroue al teen sonop by Parow se Northlink-kampus afgelaai.

Met TygerBurger se aankoms was die groep reg om die geskenk van ’n gratis hare- en grimeersessie by die onderskeie studente van dié kollege te geniet. Dít alles het geskied onder die wakende oog van Helmien Croucamp en een van die kollege-lektore, Claudine Ludski.

Dis ’n dag vir hulle om te wys wat steek in die Parow-studente, wat gereeld die publiek op Vrydae en Saterdae ten bate van hul praktiese opleiding teen spotgoedkoop tariewe help om mooi te lyk.

Hierdie spesifieke Vrydag is dit toe die beurt van die mooies van Richwood, Elsiesrivier, Goodwood en Parow om die uitstappie mee te maak – wat ook later sou sorg vir ’n traan of drie.

Studente soos Esmeralda Cummins se vingers gaan woerts-woerts-snip-snip deur hare – dit lyk asof sy ’n instrument bespeel. Die foelie vou sy sodat nie ’n enkele druppel van die kleursel aan ’n ongehoorsame buurhaar kan raak nie. Die spoed waarteen sy werk, onder leiding van Ludksi, is verstommend. Sy is ’n vlaktweestudent, en sal volgende jaar afstudeer.

Die sowat 100 leerders wat die 60 vroue op die dag bedien, is netso opgewonde soos die tannies self, en verskeie skoonheids- en gesondheidswenke word uitgeruil – oud leer by jonk en jonk by oud.

Gou is die hare kaf geblaas en is almal se kapsels gereed vir die buitewêreld (en die kameraflitse) om te aanskou en te bewonder.

Die bussies vertrek met die vroue na Jack Mullerpark in Boston, waar daar met hul aankoms ’n lekker warm middagete op die groep wag. TygerBurger kiek die vroue waar hulle sit en klets en eet en koortjies van dankbaarheid teenoor die Skepper sing. Dis omtrent ’n heerlike piekniek. Dis ook hier waar die traan gestort word.

Een groepie genooides is van ’n plaaslike nagskuiling. Walker verduidelik hulle kinders het hulle daar gaan “weggooi, van hulle vergeet en worry nie oor hulle nie”.

Toe ’n lieflike stilte slegs onderbreek word deur die voëls in die park en nabye motorverkeer, sê Walker: “Moeders, wanneer u Sondag in u kamer sit en daar is nie ’n kind wat u besoek of vir u ietsie mooi bring of tyd met u kom spandeer nie, dink aan hierdie dag. Hierdie is u Moedersdaggeskenk. Dit is vir my ’n absolute éér om dié dag met u te kon spandeer.” Daar was nie ’n droë oog in sig nie, net pragtige glimlagte, en geblaasde hare wat blink in die middagson.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.