Inwoners in die omgewing van die Hoërskool Silversands in Silversands sê rowers voer ’n skrikbewind daar.
Lorna Frieslaar van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum sê hulle kry gereeld klagtes van mense wat aangeval en beroof word.
“Net die laaste week is ses mense beroof. Daar is bosse langs die pad en die rowers verras voetgangers. Sodra hulle die mense beroof het, verdwyn hulle net weer tussen die bosse,” sê Frieslaar.
Verlede week is ’n grassnyer van ’n werker van die hoërskool gesteel.
“Die meeste aanvalle is tussen 05:30 en 07:00, wanneer mense onderweg werk toe en skool toe is. Dis veral in De Hoop- en Fernkloof-straat en Bardaleweg dat die aanvalle in felheid toeneem. Die buurtwag probeer patrolleer, maar dit is nie genoeg nie. Ons wil ’n beroep op die polisie doen om meer in die gebied te patrolleer,” sê Frieslaar.
AO November Filander, polisiewoordvoerder, sê hy is nie bewus van klagte wat oor die spesifieke gebied aanhangig gemaak is nie.
“Dit is belangrik dat mense voorvalle by die polisie aanmeld. Dit help nie veel as iets met jou gebeur en die polisie weet nie daarvan nie. Mense moet ook in groepe beweeg,” sê Filander.