Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Buurtwagte wil graag help

Op sosiale media gons dit steeds oor mense wat bloot nie gehoor gee aan die bevel om tuis te bly en net vir noodsaaklikhede uit te gaan nie.

Buurtwaglede wil graag help en soos TygerBurger verlede week berig het, is daar ongelukkigheid dat hulle nie as noodsaaklike dienste geag word nie.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het op Maandag 30 Maart in ’n verklaring gesê ’n beroep word gedoen op die nasionale regering om die ontplooiing van buurtwagte tydens die inperking te heroorweeg.

Smith het gesê daar is duisende goed-opgeleide buurtwagte in Kaapstad, wat die goeie werk wat hulle gewoonlik doen om misdaad te bekamp, sou kon voortsit.

Hy het gesê misdadigers buit reeds die huidige situasie uit.

“Die buurtwagte sal ook as geloofwaardige boodskappers kan optree om gemeenskappe aan te moedig om gehoor te gee aan die inperkingsmaatreëls en tuis te bly, aangesien dit duidelik is dat daar nie genoeg wetstoepassers is om dit reg te kry sonder die hulp van die burgerlike samelewing nie,’’ het hy gesê.

Smith het gesê die ontplooiing kan beperk word om net buurtwagte in te sluit wat deur die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid geakkrediteer is.

Jeanne de Villiers, voorsitter van die Langverwacht and Surrounds Safety Watch (LSSW) in Kuilsrivier sê dit is die nasionale polisiehoof wat nie wil hê buurtwagte moet betrokke wees nie.

“As dit van die Stad Kaapstad af gehang het, sou ons al lankal ’n rol gespeel het.’’

Hy sê plaaslike buurtwagte kon aan die begin van die jaar ’n ramp-risikobestuurshulp-vorm (van die Stad) teken as hul lede bereid sou wees om hulp te verleen in ’n rampsituasie.

“Ek het natuurlik in daardie stadium nie besef dit kan so gou benodig word nie,” sê De Villiers.

LSSW se lede wil graag help. ‘‘Ons het die ondervinding en ook lede met noodhulpopleiding. Ek sou dat elke patrolleerder alleen in sy voertuig ry, maar meer as een voertuig op ’n slag sodat daar bystand is.

“Ons is veronderstel om slegs die ‘oë en ore’ vir die polisie te wees, so ons hoef nie eens uit ons voertuie te klim nie, maar kan aan die polisie of wetstoepassing rapporteer indien ons iets sien wat nie volgens die inperkingsmaatreëls verloop nie.”

De Villiers sê tans help hulle om die gemeenskap op hoogte te hou van gebeure en om die baie vals nuus wat op Whatsapp-groepe gestuur word, uit te wys.

Johan Badenhorst, voorsitter van Amandel and Surrounds Crime Watch, ook in Kuilsrivier, sê hoewel dit nogal ’n klap in die gesig was om te hoor hul dienste word nie benodig nie, is daar twee kante aan die saak.

Die veiligheid van buurtwaglede kom eerste, maar aan die anderkant is die diens wat hulle lewer ‘‘redelik noodsaaklik”, aangesien daar nie genoeg polisie-, wetstoepassings- en weermaglede is om orals uit te kom nie, sê hy.

“Dit is belangrik om die maksimum oë en sigbaarheid op die pad te kry tydens hierdie landwye krisis.’’

Badenhorst stel voor buurtwagte kry ’n spesiale permit om in hul area te mag ry en dat duidelike riglyne uiteengesit word oor die funksie wat die regering wil hê hulle moet verrig.

Albert Fritz, die provinsiale minister van gemeenskapveiligheid het op Donderdag 2 April tydens ’n telekonferensie gesê verskeie skole het deurgeloop onder vandalisme sedert die begin van die inperkingstydperk.

Hy het aangekondig buurtwaglede gaan gewerf word in terme van die Stad Kaapstad se rampbestuur om die skole te beskerm.

Fritz het by navraag gesê in hierdie stadium is die gebruik van buurtwaglede as rampbestuur-vrywilligers in die konsepfase en word dit gedryf deur die Stad Kaapstad.

“Die departement van gemeenskapsveiligheid sal hulp verleen deur die databasis van geakkrediteerde buurtwagte vir die geïdentifiseerde areas beskikbaar te maak.”

TygerBurger het ’n navraag aan JP Smith gestuur om te hoor of buurtwaglede wél sal kan help en in watter mate, maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.