Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Charles blom tussen sy asters

Charles Summers van Haasendal sê as die vroue hom grootoog aankyk wanneer hy ’n hele paar pakkies pantyhose by Pep Stores koop, verduidelik hy maar daar is geen rede tot kommer nie. Die sykouse is wel nie bedoel vir een (vroulike) aster nie, maar vir ’n hele paar asters – van die plantfamilie Chrysanthemum Asteraceae.

In die agterplaas van Summers se huis onder ’n skadunet staan 260 potte in rye met asterplante, waarvan die stamme elk met stukkies sykous aan ’n riet vasgebind is.

Vir ’n leek lyk die plante, waarvan sommige skouerhoogte staan, dalk eenders, maar Summers wys gou verskillende variëteite uit.

Die plante begin nou blomknoppe maak en behoort einde April te blom.

‘‘’n Kennersoog sal nou al aan die blomknop kan sien of dit ’n moontlike kampioenblom gaan oplewer,’’ sê hy.

Summers, ’n voormalige stasiebevelvoerder van Brackenfell-polisie, sê vanjaar sal die vyfde jaar wees dat hy skou-asters kweek.

Hy is ’n lid van die Stellenbosch Horticultural and Industrial Society (SHIS), wat spesifiek op asters fokus. Dié klub se jaarlikse skou word op 2 Mei in die saal van die Laerskool Rietenbosch in Cloetesville gehou.

Summers pas sy asters soos babatjies op. Hulle word sowat nege maande lank vertroetel – vandat die steggies gesny en in potte geplant is van einde September verlede jaar tot en met blom- en skoutyd.

‘‘Nou is dit wag en sien vir die blom wat kom.”

Die asters kry gereeld voeding; daar is ’n kombinasie van goed wat saamgevoeg word – onder meer potas, natrium, fosfate, ureum en duiwemis-water. Hy kry die mis van elders en meng dit dan met skoon water.

Summers het ’n 3 500 l watertenk en die buurman gee ook nou en dan vir hom so 500 l om te help om al die asters gelukkig te hou.

Hy sê SHIS sal in 2022 sy 60ste bestaansjaar vier en dan wil hulle ’n nasionale skou aanbied.

Die land se eerste en nou oudste klub is in 1907 in Wellington gestig.

‘‘Hulle het begin met ’n blom wat ons nou nog groei – die Louisa Pockett.’’

Dit blyk daar is sowat 2 000 variëteite met blomme in ’n wye reeks kleure. “As ek in die laaste week van April gaan sny, is hier ’n skouspel van kleur.”

Tans het Summers sowat 50 variëteite, maar volgende jaar wil hy spesialiseer. “Ek wil dit minder maak en meer konsentreer op die larges en mediums.”

Een van sy gunsteling-variëteite is die Elizabeth Shoesmith, wat dikwels ’n “hen-en-kuikens” het – ’n middelknop met kleiner knoppies daarom, wat dan versigtig weggesny moet word.

Sekere van die blomme groei moeiliker en dié variëteite gaan dan mettertyd verlore.

‘‘Daar is nie meer blou of groen asters in Suid-Afrika nie,” sê Summers.

Verlede jaar het hy met een blom – ’n ‘‘William Stokes” – twee van die groot pryse op die klubskou gewen. Dit was vir die beste kleur bloeisel (bloom) en die beste mediumgrootte blom. “Dit was ’n pers blom wat baie mooi rond gevorm was.”

Hy sê hy kan hom verkyk aan hoe perfek rond van die blomme groei. Die stokperdjie vat wel baie van sy tyd, maar dis nooit ’n las nie. “Ek sit musiek aan en kan ure spandeer hier agter.” As hy vir sy vrou, wat in Johannesburg werk, sê hy was die helfte van die dag in die tuin, weet sy hy is gelukkig.

Party van die plante het twee of drie stamme in een pot. “Net vier of vyf van die potte het one ups – net een moederstam. Van hulle kan jy vir seker weet jy gaan ’n goeie groot blom kry, want al die krag gaan in een. Met drie stamme word die kos verdeel.”

Hy sê dit is nie moeilik om asters te kweek nie en ’n mens leer deur ervaring. “Honderd kwekers, honderd metodes.”

Sommige klublede gebruik al baie jare dieselfde metodes wat vir hulle werk. En ja, jy moet bietjie tyd insit, maar nuwelinge kan op klein skaal begin, raai hy aan.

Digby die agterdeur staan ’n paar plante in die “siekeboeg” waar hulle bietjie ekstra aandag kry. Summers verduidelik die klompie het aanvanklik gestaan waar die skadunet digter is en het dus minder sonlig gekry. Soms pak hy ook van die ander plante uit of trek die skadunet oop om ’n goeie dosis sonskyn te gee.

Hy hou die weervoorspelling dop, want die Suidoos kan die plante plat waai en die stam afbreek – “veral as die riet waarteen dit gebind is nie lekker stewig staan nie”.

Beplanning en tydsberekening is belangrik. Van die skoudatum word daar terugwaarts beplan.

“Die tricky ding is om seker te wees wanneer om plantjies (steggies) te maak sodat die blomme reg is teen skoutyd.”

Selfs gesoute kwekers kry dit nie altyd reg nie en die weer speel ’n groot rol, sê hy.

Global warming veroorsaak dat daar in Maart – wanneer temperature al moet daal – skielik hitte van 37 grade is.”

In Engeland, waar “mean asters” gekweek word, is die weer baie anders, maar daar word die klimaat grootliks beheer in kweekhuise, sê hy. “Hulle gebruik waaiers as dit te warm is en verwarmers as dit koud is. Die perfekte temperatuur (vir asters) is 18 grade Celsius. Ons kan nie die weer bestel nie; ons moet vat wat ons kry.”

Summers hou noukeurig dagboek van al die take wat hy verrig soos watter voeding wanneer gegee is of grondmengsels wat hy gebruik het. “Nou met die nuwe seisoen kan ek gaan kyk wat ek verlede jaar gedoen het en wat gewerk het.”

Omdat die klublede “almal ou manne” is, is Summers bekommerd dat die ‘‘sport” om skou-asters te kweek gaan uitsterf. “Ons soek jonger mense, so tussen 30 en 50, om aan te sluit en dit lewend te hou.”

Kontak Charles by 073 807 2350 of cjsummers30@gmail.com vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.