Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Chester al 37 jaar deel van my rugbylewe
Chester Williams as jong Springbok in 1994 Foto: G

Ek was nie voorbereid op die skielike heengaan van Chester Williams nie, want ek ken hom al sedert 12-jarige ouderdom.

Die werklikheid moet nog insink, maar sedert ek Vrydagaand 6 September van sy afsterwe gehoor het, sukkel ek om dit te verwerk, want ek en hy het nog die vorige week gepraat oor die Dubai 7’s, wat ek sedert 2012 gereeld bywoon en dan het ons mekaar daar ontmoet.

As rugbyskrywer by Die Burger was hy en wyle Tinus Linee die eerste twee spelers oor wie ek geskryf het. Ons het mekaar by die o.13-proewe vir die WP-liga se Cravenweekspan op Avonwoodpark in Elsiesrivier ontmoet vir die onderhoud. Albei was nog onbekend en het eers begin naam maak toe hulle die o.19-proewe op dieselfde veld in 1988 as senterpaar gemaak het. Ons is almal vertroud met die opgang wat albei in rugby gemaak het totdat albei in dieselfde jaar (1993) Springbokke geword het.

Chester was die skaam een, maar Tienie het nie geskroom om my allerhande vrae te vra nie.

Ek het altyd gehoor van die gesegde dat ouers nie kinders begrawe nie, maar met Chester se afsterwe begrawe ek my tweede “rugbykind”.

Wat ek van hom sal onthou, is die glimlag wat altyd op sy gesig was, die papiertjie of hoed van jonk en oud wat hy met die einste glimlag geteken het en ook ’n geselsie aangeknoop het. Veral tydens die Dubai 7’s het hy nooit níé vir ’n foto geposeer of ’n program geteken nie. Hy het selfs tot op sy hurke gesak om sy bewonderaartjie in die oë te kan kyk. Agterna het ons dan ons geselsie voortgesit en hy was altyd verbaas dat mense hom nog onthou.

Deur die jare het ons mekaar by rugbygesellighede gekry en hy wou altyd weet hoe gaan dit met my en my twee seuns. Hy was verbaas om te hoor Gilroy werk en woon in Dubai.

Chester se werk in die gemeenskap van die Paarl is nie altyd aan die groot klok gehang nie, want hy het nie eintlik van publisiteit daaroor gehou nie. Hy wou liewer die jeug aanmoedig om by sport betrokke te wees as om af te dwaal en by sosiale euwels betrokke te raak.

Toe Tienie bedlêend was, het Chester hom nie versaak nie, maar bygestaan tot sy dood.

Vir my is Chester die verpersoonliking van die gesegde: dit is beter om te gee as te neem, want hy het ’n oop hand gehad vir diegene wat minder as hy gehad het.

Ek was die eerste een wat die scoop gekry het toe die verfilming van Invictus in Kaapstad begin is. Hy het my net laat weet, kom na die rugbyveld van die Tuine-Technikon; ons is besig om tonele hier te skiet. Ek was toe ook bevoorreg om die Hollywood-akteur Matt Damon, wat die rol van Francois Pienaar in die fliek speel, te ontmoet en my selfie te neem.

Tydens sy tyd by die Universiteit van Wes-Kaapland as afrigter van die span – eers vir die Varsityskild en nou vir die Varsitybeker, kon ek hom enige tyd bel of e-pos om te vra wat hy nou doen vir ’n storie vir die koerant.

Deur die jare het hy nederig gebly, ondanks sy rugbyprestasies.

Die grootste kompliment wat ek ontvang het, was by die presidensiële geselligheid in Tuynhuys in 1995, toe Madiba my gevra het of ek sy verloofde is en Chester geantwoord het dat ek sy “rugbyma” is. Rus sag, en jy en Tienie sal altyd my eerste rugbykinders wees. – Avril Fillies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.