Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Chester nooit groter as rugby nie’

“Nog ’n stukkie van my hart is weg met die heengaan van Chester Williams (49) van Plattekloof, maar ek dank die Here vir die tyd wat ons met hom hier op aarde kon deurbring en wat hy vir rugby vir die land beteken het.”

Dis hoe Dougie Dyers, voormalige afrigter en mentor van Chester, oor sy skielike heengaan op Vrydag 6 September gesê het.

“Ek is trots op wat Chester bereik het en dat hy uit Federasie-geledere gekom het. Hy het hoë standaarde gestel in sy rugby en ook in sy persoonlike lewe en vandag se jeug kan dit alles navolg. Alle eer vir wie en wat Chester was, kom sy ouers, sy ooms en wyle Bill Jacobs (afrigter van die Paarl) toe, want hulle het hom die nodige leiding gegee. Die Albions-rugbyklub moet ook bedank word vir sy bydrae tot Chester en wyle Tinus Linee se rugbyloopbane, want albei was die verpersoonliking van wat Federasie-spelers kan vermag wat nie dieselfde kanse as hulle twee gekry het nie,” het hy gesê.

Vriende en familie beskryf hom as saggeaard, skaam, vriendelik, altyd ’n glimlag op sy gesig en sy mensliewendheid, of net ’n omgeemens. Chester se dood het skokgolwe deur die land gestuur, veral nadat daar onlangs van nog ’n 1995-Wêreldbeker-Springbok, James Small, afskeid geneem is.

Dis op die rugbyveld waar Chester gewys het dat hy sy rugbygene van sy pa, Wilfred, ooms, Avril en Randall Williams, en Adam Dombas, broer van sy ma, wyle Julene, van die Paarl ontvang het. Hy was deel van die seëvierende wêreldbekerspan van 1995 en was destyds die “gesig” van 1995 wat die land saamgesnoer het.

Die grondslag vir sy rugbyloopbaan is by die Laerskool Klein-Nederberg gelê en afrigters wat ’n groot bydrae tot sy rugbyloopbaan gemaak het, is Dougie Dyers, Charles Williams, Wessel Seconds en wyle Phillip Abrahams.

“Chester het natuurlike rugbytalent gehad, want hy kom uit twee families met rugbybloed, naamlik die Williams- en Dombas-gesinne. Oom Avril het na Errol Tobias die tweede Springbok geword toe hy sy debuut teen Billy Beaumont se Engelse op die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth gemaak het,” het Charles Williams, een van sy afrigters by die WP-Liga, gesê.

Sy rugbyloopbaan het saamgeloop met Linee s’n en albei het vir die rugbyklub Albions op senter in die Paarl uitgedraf. Daarna is hulle saam vir die WP-Liga se Cravenweekspanne en ook die senior span gekies, voordat hulle albei vir die WP uitgedraf het. In 1993 het albei Springbokke geword en die res is geskiedenis.

“In 1991 was ek die afrigter van die WP-Liga en was baie ongewild by die publiek toe ek albei op senter gekies het, en die destydse kaptein, Wilfred Cupido, weggelaat het.

“Chester was nie ’n prater nie en baie stil. Hy het reeds op skool goeie belofte getoon en het die geleenthede gebruik om suksesvol in rugby te wees. Hy het nooit sy gemeenskap vergeet nie en was die ‘Pêrel van Paarl’, wat die weg gebaan het vir bruin en swart spelers van vandag, wat hul droom om Springbok te word, kon najaag,” het Williams gesê.

Pompies Williams was sy kaptein by Paarl-Liga en hy sê Chester het reeds as jong seun by die destydse Federasieweke by die destydse Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps (SAKK) op Faure potensiaal gewys.

“Wat ek van hom sal onthou, is sy nederigheid en dat hy nooit groter as rugby geword het nie. Hy het rugby altyd eerste gestel en uitgereik na die gemeenskap in Paarl. Hy het nie toegelaat dat politiek sy rugbyloopbaan opneuk nie en het geglo dat sport gemeenskappe kan saamsnoer en jy verskille kan besleg. Sy pa se familie was almal stoere Albions-mense, terwyl sy ma se familie vir Rangers ondersteun het,” het hy gesê.

Oom Avril sê hy sal sy geselsies met Chester mis.

“Hy was 14 jaar oud toe ek in 1984 Springbok word en het my bewonder. Ek het nooit gedink ek sal eendag saam met hom in een span speel nie, maar ons het in 1992 vir die SA Weermagspan oorsee as senters uitgedraf. Spelers soos Archie Johnson en Richard Croy, wat ook groot naam in Federasie-rugby was, was deel van die span.

“Hy en Tienie was soos broers en tot Tienie se afsterwe in 2014, was daardie broederliefde nog net so heg soos toe hulle kinders in Paarl se strate was.

“Chester was familievas en ek sal sy vriendelikheid en sy bereidwilligheid om ander te help mis,” het hy gesê.

’n Gedenkdiens word vandag om 13:00 in die Hoofsaal by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou en Donderdagaand (12 September) om 19:00 word ’n gedenkdiens in die Boland-krieketstadion in Paarl gehou.

Sy begrafnisdiens word Saterdag 14 September in die Nuweland-rugbystadion om 12:00 gehou. Hy laat sy vrou, Maria, en drie kinders agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.