SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Niks stuit Croy nie

’n Man van Eersterivier het ’n tweede kans gekry om sy liefde vir sport uit te leef nadat sy aanvanklike sportdrome gekelder is toe hy sy nek in ’n motorongeluk gebreek het.

Brandon Croy was 18 en topfiks toe sy lewe in 2014 tot stilstand geruk is.

“Ek het in 2013 gematrikuleer en die volgende jaar by Northlink ingeskryf om sportfiksheid te studeer. In daardie stadium het ek rugby en krieket vir Bellville gespeel en groot sportdrome gekoester. In die ongeluk het ek my nek gebreek en is van my bors af ondertoe verlam,” sê Croy.

Volgens Croy, wat in verskeie posisies kon speel, het wat met hom gebeur het nie sy passie vir sport geblus nie en hy het onlangs weer die geleentheid gekry om betrokke te raak.

TygerBurger het verlede week berig oor die Blackheath Rugby Boys-inisiatief (“Rugby bring hoop”, 20 November), wat daarop gemik is om kinders uit die gemeenskap deur middel van rugby vir die uitdagings van die lewe voor te berei.

Hierdie inisiatief wat by die Hoërskool Blackheath ontstaan het, bereik kinders van alle uithoeke van die gemeenskap.

Croy is by hierdie inisiatief betrek en hy gedy.

“Ek is in my noppies om weer by sport betrokke te kan wees en met jong kinders te kan werk. My fokus is veral daarop om die kinders fiks te kry, maar ek deel ook my kennis van die spel.

“Dit is vir my verblydend as ek die een week met kinders gewerk het en ek sien die volgende week hoe hulle verbeter het. Ek staan verbaas oor hoeveel talent ons kinders het,” sê Croy.

In die toekoms oorweeg hy om dalk verder te gaan met afrigting, maar volgende jaar gaan hy weer studeer.

“In die kort termyn wil ek net sien hoe die kinders floreer met hul rugby,” sê hy.

Winslow Mullins, een van die dryfvere agter die rugbyprojek, sê Croy is nie net vir hom ’n inspirasie nie, maar ook vir almal rondom hom.

“Hy is ’n waardevolle lid van ons span en die kinders kyk op na hom. Elke dag is hy ’n bewys dat jou terugslae jou nie definieer nie en dus waardeer ons sy bydrae en insette. Ons hoop hy kan nog lank by ons betrokke wees,” sê Mullins.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.