Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
DF-koorleier ontvang gesogte toekenning

Die komponis Adrian More, ook koorleier van die Hoërskool D.F. Malan, is verlede week aangewys as landwye wenner van die gesogte Helgaard Steyn-toekenning vir musiekkomposisie.

Hy het dié toekenning ontvang vir sy klavierkomposisie Piano Concerto No. 1, wat bestaan uit drie bewegings – Vivace minaccioso, Adagio con molto espressione en Allegro molto e vivace.

Hy het die prys verlede Donderdag by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit ontvang.

More het sy wenkomposisie in November 2014 voltooi. Dit is die eerste keer in die Kaapstadse stadsaal met die pianis Francois du Toit as solis uitgevoer, waarvoor hulle ’n staande ovasie ontvang het.

Dit was onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes met Owain Arwell Hughes as dirigent en Farida Basharova as die konsertmeester.

Dit was ook die enigste keer dat dit uitgevoer is.

More het aan TygerBurger gesê hulle beoog om weer ’n uitvoering van die stuk te doen.

Hy het die afgelope vier jaar as koorleier van die Hoërskool D.F. Malan dié koor tot groot hoogtes gevoer.

“More bewys homself weereens as ’n inspirasie en bron van uitnemendheid in ons skool, maar ook vir die kunskultuurkringe van Suid-Afrika in sy geheel,” het Sias Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan, op die skool se Facebook-blad oor hom gesê.

More, wat aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer het, het sy graad aan die Universiteit van Kaapstad in 2005 met lof behaal en later aan dié universiteit doseer.

Hy het later sy meestersgraad in gevorderde komposisie, rolprentkomposisie, klavier en stem aan die Royal College of Music in Londen behaal.

More het reeds verskeie konserte en ander hoogtepunte as komponis op sy kerfstok.

Sy Afrikaanse operette Angi-Laius – ’n verhaal oor die tenoor Deon van der Walt in die konteks van Oedipus and Laius – is in 2015 in die Artscape-teater met elke uitvoering met staande ovasies toegejuig.

Hy het ook musiek verwerk vir ’n internasionale dokumentêre film The Black Mambas, wat by die American Documentary Film Festival as die beste internasionale kortfilm aangewys is.

Dit is ook onlangs by die Jozi Film Festival as die beste internasionale kortfilm aangewys.

Die Helgaard Steyn-prys ter waarde van R625 000 word jaarliks om die beurt aan vier kategorieë toegeken – vir musiekkomposisie, beeldhou, romankuns en skilderkuns.

Dit is die grootste private prys vir kunste in Suid-Afrika en word deur die Helgaard Steyn Trust gemaak. Volgens die webblad van dié trust is dit ’n bemaking uit die boedel van dr. Jan Steyn.

Vorige wenners van dié gesogte prys sluit in die Peter Klatzow (musiek), die Wim Botha (visuele kuns) en die skrywers Dan Sleigh, Willem Anker en PG du Plessis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.