“Dit voel soos dood in die huis ...,” was die kommentaar van Margit Meyer-Rödenbeck, mede-eienaar van Die Boer-teaterrestaurant, ná die sluiting van dié instansie verlede week vir ’n onbepaalde tyd.
Die jongste inperking en aandklokreël was die laaste strooi vir die eienaars van Die Boer-restaurantteater in Durbanville.
Dié aankondiging deur mede-eienaars Margit en haar man, Jurg Human, op hul Facebookblad dat die restaurantteater sy deure vir ’n onbepaalde tyd sluit, is met groot teleurstelling deur gereelde teatergangers begroet.
“Soveel wonderlike, wonderlike memories wat daar gemaak is,” lui een inskrywing.
“Sad, sad news. All our music venues are on the brink of closure. I wish you strength and hope you can hold out till this catastrophe ends,” het ’n ander gesê.
“Dis ’n donker donker land en so ’n swaar pad om te loop. Ons hoop saam met julle duisende ondersteuners dat die probleme oorbrug kan word – ons verstaan die gevoelens van magteloosheid,” lui nog ’n inskrywing.
Ook die Afrikaanse sanger Wicus van der Merwe het van hom laat hoor: “Die deure sal weer oopmaak en ons sal daar wees! Julle het al bitter baie vir ons beteken, selfs in die moeilike tye laasjaar toe julle self gestruggle het. Ek sal daar wees as, nee, wanneer die deure weer oopmaak! Sterkte daar! Ons hou saam duim vas dat dinge gou sal omdraai!”
Die Boer het op 20 April verlede jaar sy 15de bestaansjaar gevier.
Dié teaterrestaurant met sy intieme atmosfeer het in April 2005 geopen en bekendheid verwerf vir sy lekker kos en topvertonings deur kunstenaars van oraloor.
Dit het als begin toe Margit en Jurg mekaar op 1 September 2004 op ’n “blind date” oor middagete ontmoet het. Laataand was die gesels nog nie op nie en deel van die groot gesels was Jurgen se lewensdroom om ’n restaurantteater te open.
Sewe maande later op 20 April 2015 het Die Boer geopen. Sedertdien het van die land se topkunstenaars al daar opgetree.
’n Groot deel van die Boer se sukses was te danke aan hul kos, onder leiding van sjef Jean Louis Geldenhuys, wat vir 15 jaar die kombuis met militêre presisie bestuur het.
“In dié stadium probeer ons om tot verhaal te kom. Die afgelope jaar voel soos ’n surrealistiese droom. Om werkers te moes groet wat al 15 jaar saam met ons ’n pad stap, is baie erg,” het Margit aan TygerBurger gesê.
“Ons is eintlik in ’n toestand van rou, ons eersteling, Die Boer, gaan nou in ’n lang hibernasie, maar hopelik, ná hierdie Covid-winter sal hy weer ontwaak – rasend honger na die groen blare van die kunste.”
Ten spyte hiervan was daar baie hoogtepunte oor die jare.
“Met ons 10 jaar-verjaarsdagkonsert het ’n hele klomp kunstenaars saamgespan om saam met ons makietie te hou. Ons het ons top-100 kliënte die aand gewine en gedine.
“Nog ’n hoogtepunt was dat Jurg beslis die blues se wortels in die noordelike voorstede gevestig het.
“Hy is ’n blues nut en wou net nie opgee nie. Nou is blues al ’n instelling by Die Boer.
“So het Amerika se blues artist van die jaar, Candye Kane, in 2008 by ons opgetree.
“Dit was ’n voorreg om meeste van die topkunstenaars op ons verhoog te verwelkom, soos David Kramer, Sandra Prinsloo, Francois van Coke, Karen Zoid, Lesley Rae Dowling en nog meer.
“Dit was ook lekker om langer speelvakke, spesifiek teater, te begin vestig soos met Spertyd met Sandra Prinsloo en Drie Susters met my, Nicole Holm en Lizz Meiring,” sê sy.
As dit nie was dat die deel van die gebou waarin Die Boer geleë is deur Margit en Jurg besit word nie, sou hulle met die eerste inperking al moes toemaak, sê sy.
“Die plan is om weer oop te maak, maar ons weet nie wanneer nie. Vir eers bly Die Boer net so staan.
“Ons is oorweldig deur die reaksie van kunstenaars en kliënte wat laat weet het, as die deure oopmaak, is hulle eerste daar,” sê sy.