Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Die kat kom weer ná 117 dae

’n Huiskat, wat in Februarie onwetend ’n saamrygeleentheid vanaf Kuilsrivier na Duiwelspiek gekry het, is ná amper vier maande weer tuis.

Anja le Roux se driejarige wyfiekat Masha, ’n Maine Coon, het op Saterdag 22 Februarie verdwyn toe hulle begin inpak het om van Jagtershof in Kuilsrivier na Langebaan te verhuis.

Anja se ma, Wilna Fourie, sê die inpakkery het die huiskat verbouereerd gemaak en hulle kon haar later nêrens kry nie.

Plakkate is opgesit en hul bure se seun, Nic Burger, laat weet toe hy het Masha gesien.

Anja vertel Nic het die dag Duiwelspiek toe gery om die staproete daar te gaan stap. Na afloop van die staptog het Nic ’n nota op sy kar gekry wat lui daar sit ’n dier onder die enjinkap vas.

Sy sê Nic was versigtig om dit oop te maak, want hy het gedink dit kan dalk ’n wilde kat wees, maar toe spring Masha uit en hardloop berg af. Nic was seker dit was Masha, omdat hy vroeër die dag die “groot fluffy, donker huiskat” by sy ma se huis gesien het.

Nic het vir Anja ’n Google-kaart gestuur om presies te wys waar hy geparkeer het en in watter rigting Masha gehardloop het. Anja en Wilna is ’n hele paar keer berg toe met plakkate, katkos, water en Masha se kombers om na haar te soek.

“Ons het selfs deur die bosse geklim, maar ongelukkig kon ons nooit iets vind nie,” sê Anja.

Hulle het oral plakkate opgesit by veeartse, in woonbuurte, by die sweefspoorstasie en op Facebook- groepe vir verlore troeteldiere en selfs stapgroepe, sê Anja. Sy sê die reaksie was besonders en baie mense het aangebied om te help soek en die boodskap versprei.

Masha het ’n mikroskyfie en Anja het bly hoop iemand vind haar en neem haar na ’n veearts. Die hoop het telkens beskaam en genadiglik was ’n kat wat naby Duiwelspiek dood gevind is, ook nie Masha nie.

Dit was ’n taamlik verwilderde en honger kat wat ongeveer 15 Mei die eerste keer in Chris en Frances Boonzaier se tuin in Eversdal opgedaag het.

Chris sê die kat het hul tuin seker uitgesoek omdat die bure almal honde het en Frances voer die tarentale en eekhorings met monkey nuts, waarvan die honger kat ook kom aas het.

Frances het gedink die kat moet van iewers naby wees en het oral rondgevra en plakkate by die winkels opgesit. “Die kat het selfs met sy voete kom krap hier by ons skuifdeur – ek kon sien sy’s honger,” sê Frances.

Verlede Donderdag (18 Junie) het Frances by die Tygerberg-dierehospitaal naby Stodels die plakkaat gesien van die verlore Masha met Wilna en Anja se nommers.

Wilna sê sy was in die winkel in Vredenburg toe sy die oproep kry van Frances, wat vermoed die kat wat al weke lank in hul tuin skuil, is dalk die verlore Masha.

Anja sê sy het Masha dadelik herken toe sy die foto’s kry wat Frances vir haar ma gestuur het.

“Ek was van voor af hartseer en toe bel my ma en vra of dit Masha is, want die kat is in ’n tannie se tuin in Eversdal.”

Anja het ’n vriendin in Durbanville, Malindi Burger, gebel om te gaan kyk en te probeer om die kat in ’n katkrat te vang.

Anja en Wilna het omstreeks 14:30 van Langebaan in Eversdal aangekom. Masha was verskrik ná die eerste vangpoging en het onder ’n bos in die Boonzaiers se tuin weggekruip, sê Anja.

Haar ma het toe maar saam met die Boonzaiers koffie gedrink en Anja het buite gaan sit en uiteindelik daarin geslaag om Masha met een van haar gunsteling-lekkernye uit te lok.

Anja sê haar “grumpy cat” is selfs op ’n goeie dag nie ’n kat om mee te mors nie, en as jy nie versigtig is nie, kan sy krap.

Masha was bangerig, maar Anja het ’n handdoek gevat om haar in toe te draai. “Toe ek haar vasgevat kry, het sy stil en rustig geraak. Ons kon haar maklik in haar drahok sit. Sy het net een of twee keer ’n miaau gegee en toe bedaar.”

Anja sê sy het nie genoeg woorde om Frances te bedank nie omdat sy so mooi vir Masha gevoer het en omdat sy nooit ophou soek het na die eienaar van die kat nie.

“Ek sal haar ewig dankbaar wees dat sy my babatjie vir my teruggekry het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.