Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drama het nou haar lewe oorgeneem

Haar begeerte om “soos die mense in die flieks” te wil wees, is die rede dat drama haar lewe oorgeneem het.

Voor dit was sy skaam en het sy nie maklik met mense gekommunikeer nie. Juis daarom het haar ma gedink drama is nét wat sy nodig het om uit haar dop te kruip.

Kaylin Stevens, ’n leerder van die Hoërskool D.F. Malan, het vanjaar op die verhoog uitgeblink. Sy het in die skoolvakansie haar land by die Talent America- internasionale kompetisie verteenwoordig en drie medaljes gewen. Dit het gekom nadat sy vyf goue en een silwermedalje vir uitvoerende kunste by die SA kompetisie gewen en die top-10-akteurslys gehaal het.

“Ek het in gr. 1 met drama begin en niks daarvan gehou nie. Ek het nooit gedink dit gaan só ’n groot rol in my lewe speel nie. Sedert agtjarige ouderdom wou ek soos die mense in die flieks wees en het toe besluit om ’n aktrise te word.”

In gr. 7 het sy drama ernstig begin opneem. “Eendag het dit my net skielik getref dat ek ’n passie daarvoor het,” het Kaylin gesê.

Sy het tydens haar besoek aan Amerika in New York City gebly en het baie nuwe tegnieke by die werksessies aangeleer.

Elke deelnemer kon vier uitvoerende kunste werksessies uit ’n lang lys kies.

“Nie baie bekendes het die kompetisies bygewoon nie, buiten die Alladin Broadway Musical-geselskap, met wie ons gewerk het. Dit was ook ’n eer om deur die akteur Allan Wagner afgerig te word. Ons het ook ’n werksessie by die New York Film Academy bygewoon en het geleer hoe om ’n oudisie af te lê en hoe die proses werk,” het sy gesê.

Kaylin het nie gehoop om enige van die bekende akteurs daar raak te loop nie, want hulle was in ’n groot groep. Die glanspersoonlikhede vermom hulle gewoonlik as hulle in die openbaar verskyn, sê sy. 

“Indien ek kan kies teenoor wie ek in ’n hoofrol kan speel, sal dit Meryl Streep wees. Sy is ’n fantastiese aktrise en ek kan baie by haar leer. Ek sal graag in tienerflieks wil speel, veral in komedies, maar ek is altyd oop vir ’n uitdaging. Ek is in die skoolkoor en luister graag na musiek of sal iets op die klavier en kitaar probeer speel. Ek skryf ook opstelle en gedigte en is mal oor foto’s neem,” sê sy.

Ná matriek wil sy drama gaan swot, maar omdat dit ’n bedryf is waar ’n mens nie altyd vir seker weet of jy ’n werk het nie, wil sy ook ’n fotografiekursus en sielkunde saam met drama swot.

“Ek wil die fotografiekursus eerste doen, sodat ek kan werk as deeltydse fotograaf, terwyl ek studeer. Dit sal fantasties wees as ek in Amerika kan studeer, spesifiek by die New York Film Academy.

“Elke aand het ek my dramastukke twee keer voluit geoefen vir my optredes terwyl ek daar was. Hier het ek ook ’n fantastiese afrigter en mense wat bereid is om na my te luister, terwyl ek oefen. 

“My ouma en oupa en vriende luister terwyl ek oefen. In Amerika self het ek ’n paar keer in die optreesaal geoefen voor die kompetisie amptelik begin het,” het Kaylin gesê.

Sy het baie by haar mededeelnemers geleer.

“Die SA span was ’n groot groep en al die aktiwiteite is in ’n groep gedoen. Ek het nuwe tegnieke by beide die beroepsmense en my vriende aangeleer en ons het almal mekaar ondersteun. As span het ons in die Wyndham New Yorker Hotel gebly en dit was baie sentraal geleë. Elke winkel wat jy nodig gehad het, was in dieselfde blok gewees. My ouma het my vergesel en ek het baie vriende gemaak, hoewel ons net twee van die Kaap was. Die ander vriende was hoofsaaklik van die Tuinroete en Port Elizabeth en ons is nog in kontak met mekaar,” het Kaylin gesê. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.