Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Everite-grond verkoop

Die ou Everite-asbesstortingsterrein in Brackenfell is onlangs luidens ’n sakereddingsplan deur die beheermaatskappy Group 5 Properties verkoop.

Die beleërde maatskappy is in Maart 2019 in sakeredding geplaas ná groot finansiële verliese.

Die Johannesburgse kommunikasie-agentskap HG Strategic Communications het dit Vrydag in ’n skrywe aan TygerBurger bevestig.

Dié grond is deur die beheermaatskappy aan ’n derde party verkoop, met volledige voorsiening vir rehabilitasie, lui die skrywe.

Die naam van die nuwe eienaar is nog nie bekendgemaak nie, maar daar is ’n onderneming gegee om TygerBurger se navraag aangaande toekomstige ontwikkeling op die grond aan die nuwe eienaar te stuur vir kommentaar.

Die kwessie oor moontlike asbesbesoedeling het aan die lig gekom toe die grond in 2014 ontwikkel sou word.

Die ontwikkeling is suksesvol deur die plaaslike gemeenskap teengestaan om sodoende moontlike asbesbesoedeling te voorkom.

Tonne asbesprodukte is in 2000 op die grond gestort en net met sand bedek nadat die Everite-fabriek daar toegemaak het weens streng asbesregulasies.

Dié fabriek het sedert die jare veertig asbes­produkte geproduseer. Die fabriek is destyds deur Group 5 aangekoop en is in Johannesburg hervestig.

Die vervaardiging, verwerking en verkoop van asbes is in 2008 in Suid-Afrika verbied.

Die oop stuk grond was sedertdien in onbruik. Erosie het egter veroorsaak dat die ou asbes­produkte al op plekke begin uitsteek en in die somermaande weens veldbrande aan hitte en sterk wind blootgestel word.

In Maart 2019 het Group 5 bevestig dat hy in Desember 2018 ’n studie laat doen het aangaande die koste en spesifikasies verlang deur die Departement Omgewingsake vir permanente rehabilitasie van die grond.

Isabela Makuta van Group 5 het in 2019 gemeld dat daar twee opsies vir die groep was: ’n omgewingsvoldoende bedekking oor die stortingsterrein teen ’n koste van R27 miljoen of ’n strukturele bedekking teen R50 miljoen. 

Volgens Makuta was nie een van die twee opsies lewensvatbaar nie as gevolg van die hoë koste. 

Ondersoek gelas

Die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het verlede jaar ’n ondersoek gelas na die moontlike asbesbesoedeling op die grond.

“Die departement is in hierdie stadium tevrede dat daar geen negatiewe impak op mense of die omgewing sal wees nie. Enige ander potensiële omgewingsimpakte of gesondheidsrisiko’s sal deur die departement beoordeel word tydens die aansoekproses vir omgewingsimpakstudies,” sê Rudolf van Jaarsveldt, woordvoerder van die departement. 

Volgens die inspeksie is daar geen bewyse van asbes of oorblyfsels van asbes op die grond gevind nie. Op TygerBurger se navraag of dié bevinding die stortingsterrein insluit, is die volgende kommentaar gelewer: “’n Omgewingsimpakstudie in die vorm van ’n basiese assessering sal aan die departement voorgelê word vir oorweging voordat enige (toekomstige) ontwikkeling aan die eiendom kan begin,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.