Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Familie in rou oor Jarief

Splinternuwe klere en ’n blik met spaargeld is al wat ’n 13-jarige seun van Kraaifontein agterlaat nadat hy die afgelope naweek doodgeskiet is.

Jarief Senosky se oupa, Jakobus Louw, sê die familie is aan flarde geskeur en sukkel om sy sinnelose dood te verwerk.

“Hy was my regterhand, my vertroueling en alles waarvoor ek gelewe het. Ek en sy ouma, Lenie, het hom grootgemaak. Ons weet nie hoe ons sal kan aanbeweeg sonder hom nie,” sê Louw.

Volgens Louw het Jarief hom altyd gehelp by sy stalletjie waar hy groente en vrugte verkoop het. “Sy ouma het hom Saterdag R50 betaal vir sy hulp. Ons is toe Brackenfell toe en voor ons weg is, het ons na hom gesoek, maar sy ma het gesê hy is met ’n fiets weg. Nie lank ná ons in Brackenfell gekom het nie, het sy ma gebel en gesê hy is geskiet,” sê Louw.

Wat tot die skietery gelei het, weet Louw nie. “Van sy vriende was by toe hy geskiet is, maar ons hoor verskillende stories. Een storie wil dit hê dat Jarief en sy vriende ’n vuurwapen gesteel het, maar ons kan niks bevestig nie.

“Ons wil na niemand vingers wys nie. Ons soek net die waarheid sodat die persoon wat vir die moord verantwoordelik is, gestraf kan word,” sê Louw.

Volgens hom het hulle ná die skietery Jarief se geld in die blik in die voorkamer gekry. Nuwe klere wat Louw ook onlangs vir hom gekoop het, hang nog onaangeraak in sy kas. Louw is van voorneme dat Sharief in daardie nuwe klere begrawe word.

Natasha Senosky, Jarief se ma, het Maandag aan TygerBurger gesê hulle soek net die waarheid. “Die waarheid sal aan ons vrede gee. My kind het so uitgesien daarna om volgende jaar na die Vaardigheidskool Westcliff in Bellville te gaan. Hy het reeds sy brief ontvang,” sê Senosky.

In reaksie op Jarief se dood het die polisie se bende-eenheid Saterdagaand twee verdagtes in hegtenis geneem.

Ná sy moord is die eenheid in Scottsdene ontplooi, waarna die twee inhegtenisnemings gevolg het.

Volgens kapt. Hein Hendricks, die Kraaifontein-polisiewoordvoerder, is die een verdagte in hegtenis geneem weens ’n moord wat vroeër Saterdag plaasgevind het. “Die jong slagoffer is omstreeks 20:37 in Labohemestraat geskiet, waarna die bende-eenheid ontplooi is. Twee mans, onderskeidelik 24 en 35, is aangekeer. Hulle is ook ondervra oor ’n moord wat omstreeks 05:30 dieselfde oggend in Park-laan plaasgevind het. By nadere ondersoek is ’n 9 mm-pistool gevind wat in 2015 in Mont Clair gesteel is en met die 35-jarige verdagte verbind kan word. Sondag is nog ’n verdagte in hegtenis geneem,” sê Hendricks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.