Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fietsryer gered ná ongeluk

’n Fietsryer van Bloubergstrand het moontlik sy lewe te danke aan die sameloop van omstandighede toe hy tydens ’n oefenrit op die Bloemendal-wynlandgoed geval het.

Maurizio de Pol (59) van West Beach het verlede Maandagoggend op ’n bruggie op die fietsroete beheer oor sy fiets verloor en bo-oor die handvatsels geval en op ’n klip te lande gekom.

Hy het drie ribbes gebreek en ander sny- en skraapwonde opgedoen.

Hy het asemhalingsprobleme ondervind nadat sy regterlong deurboor is en vog rondom sy ribbes opgebou het, wat daartoe gelei het dat die long gedeeltelik platgeval het.

Hy is heel toevallig gevind deur twee vroue wat ook daar op ’n makliker fietsroete gery het – van wie een ’n opgeleide ER24-paramedikus.

Volgens Marile van Niekerk (34) het sy en haar vriendin, Kate Shannon van Wyk (35), van Durbanville net ná 08:00 daar fietsgery.

“Ons het die gewone groen roete gery en toe ons teen die tweede bult opry, het ek vir Kate gewys in die rigting van die swart roete en vir haar gesê eendag as ons goeie fietsryers is, moet ons dié roete probeer.

“Sy het toe in die rigting gekyk waarna ek gewys het en gesien daar lê iemand in die veld. Ons het die onderkant van die swart roete gevolg tot by die beseerde man.

“Ons het hom gekry waar hy langs sy fiets gelê het – met bloed, snymerke en afgeskaafde vel aan albei sy arms,” sê sy.

Sy regterskouer was geswel en erg gekneus en daar was ’n groot knop aan sy regtersy.

Volgens Van Niekerk, wat drie jaar as ER24-paramedikus by die Mediclinic Louis Leipoldt gewerk het, het die beseerde man sy bewussyn verloor.

Hulle het sy foon en beursie gesoek en kon só sy identiteit bevestig.

“Nog ’n fietsryer het toe daar verbygekom en ons kom help. Ek het intussen die ontvangs by Bloemendal gebel en ook ER24 vir ’n ambulans.

“Ons kon ook sy vrou bel, wat ook op Bloemendal fietsgery het, maar net op ’n ander roete,” sê sy.

Nadat sy hom gestabiliseer het, het hulle daarin geslaag om hom na ’n paadjie te neem waar die ambulans hom sou oplaai.

“Hy het verskriklike pyn verduur en gesukkel om asem te haal en kon nie plat lê nie. Sy vrou het intussen ook daar opgedaag en ons het vir die ambulans gewag.”

Hy is na die Mediclinic Durbanville geneem waar hy dae lank in die hoësorgeenheid versorg is.

Hy is verlede Donderdag ontslaan.

“Ek is net so dankbaar dat ek vir Kate by my gehad het, wat hom raakgesien het en dat sy en die ander fietsryer my kon help,” sê sy.

De Pol het die vroue bedank vir alles wat hulle vir hom gedoen het en gesê hy was werklik geseënd met hul sorg.

“As dit ook nie was vir Kate wat my raakgesien het nie, kon ek wie weet hoe lank daar gelê het, en met ’n platgevalde long kon dit sleg uitgedraai het,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.