Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
'Genoeg is genoeg!'

Die begunstigdes van die 166 nuutgeboude huise in Morningstar, wat nou al byna ’n jaar wag om in hul huise te kan intrek, is nou moeg gewag.

Die mense, van wie talle in wendyhuise en ander opslaanhuise in agterplase van huise in Morningstar bly, het Saterdag hul stemme dik gemaak by ’n vergadering van die nuutgestigte Morningstar Residents Forum.

Die vergadering het in ’n stampvol Jack & Jill-kleuterskool in Morningstar plaasgevind.

Een van die inwoners is gekoppel aan ’n asemhalingsmasjien en moet in haglike toestande in ’n agterplaas bly, terwyl sy nuutgeboude huis skaars 100 meter verder leeg staan.

Ander het by die vergadering vertel hoe hulle uitgebuit word, omdat huur van meer as R2 000 aan hul huiseienaars moet betaal.

Hul nuutgeboude huise, waarvoor hulle geen huur sal hoef te betaal nie, staan leeg en word geplunder.

Talle plaaswerkers wat ook by die projek sou baat en reeds die boere kennis gegee dat hulle hul huise se huurooreenkoms wil beëindig, moet nou in klein kamertjies en stoorkamers op die plase bly.

Die R34,2 miljoen-behuisingsontwikkeling van sowat 1,6 ha op die hoek van Skool- en Pikkewynstraat bestaan uit 152 dubbelverdieping- en 14 enkelverdiepinghuise.

Die begunstigdes van dié Breaking New Ground (BNG)-staatsgesubsidieerde huise is almal mense wat minder as R3 500 per maand verdien.

Die oorhandiging van die eerste 19 huise op 20 September verlede jaar het skipbreuk gely toe die organisasie Morningstar Development and Upliftment Initiative (MDUI) kort voor die oorhandiging motorbande voor die huise in Langebergweg aan die brand gesteek het.

Hoewel die Stad Kaapstad toe ’n dringende hofinterdik teen die MDUI bekom het, het dié organisasie dit teengestaan met ’n teeninterdik om die Stad te verhoed om die huise te oorhandig, hangende ’n hersiening van die proses hoe huise toegeken is. 

Die inwoners by die vergadering verlede Saterdag het Zane Williams, voorsitter van die MDUI, daarvan beskuldig dat hy die hofprosedure doelbewus uitrek deur onder meer aanmekaar van regspan te verwissel.

Carmilla Christians, ook ’n lid van die Morningstar Residents Forum, het gesê hulle moet nou hul voet neersit. “Dis al hoe ons iets gaan regkry,” het sy gesê.

Jason Hemmer (55) het gesê hulle moet die huise gaan beset. “Die huise is klaar op jou naam; hulle kan niks aan jou doen as jy jou eie huis gaan beset nie,” het hy gesê.

“Dis ’n klein groepie mense wat Morningstar wil oorvat, wat nou almal benadeel,” het hy gesê.

“Dis so hartseer. Ons het ’n plek, maar kan nie daar gaan bly nie. Ons ‘landlords’ sit net ons huur op en ons moet vir krag en water betaal,” het hy gesê.

Een vrou het vertel hoe sy en haar gesin duur vir vervoer uit Fisantekraal na Durbanville moet betaal, terwyl hulle ’n huis in Morningstar gekry het. Sy werk gereelde skofte by ’n hospitaal.

“My dogter in die Hoërskool Durbanville kan aan niks ná skool deelneem nie, oor die vervoer so duur is,” het sy gesê. “Hierdie ding het soveel seer veroorsaak,” het sy gesê.

“Genoeg is nou genoeg!” het Sally Arendse, voorsitter van die forum, gesê. Sy het gesê hulle gaan die Stad Kaapstad 10 dae kans gee – tot Maandag 16 September – om antwoorde op hul vrae te gee oor waarom hulle nie in hul huise kan intrek nie.

Hulle beoog om ’n optog na die behuisingskantore in Parow te hou as daar nie op hul versoeke ag geslaan word nie.

Neels Christians, ’n lid van die behuisingsprojek se loodskomitee, het gesê die Stad gaan nou van hulle barbare maak.

“Ons het nie so grootgeword nie; ons in Morningstar is nie so nie. Mense, julle moet nou saam staan en nie onder mekaar praat nie.”

Hy het gevra hoe dit moontlik is dat ’n organisasie wat geen seggenskap in Morningstar het, nou kan kom en aanspraak op enigiets maak.

“Daar is mense wat intussen al oorlede is sonder dat hulle in hul huis kon intrek. Daar is mense met tering en asma,” het hy gesê.

“Die bietjie wat ons kry, word van ons weggeneem deur ’n organisasie wat nie die reg daartoe het nie.”Ella Daniels, woordvoerder van die forum, het gesê hulle soek antwoorde op hul vrae: As die titelaktes reeds in 2015 geteken is, hoekom word die projek nog vertraag? Hoe het die MDUI in behuising gekom as die organisasie nie eens betrokke was by die loodskomitee nie? Watter mag het een persoon om ons sleutels van ons huise van ons te weerhou?

Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, waaronder Morningstar val, het ook onder skoot gekom, onder meer omdat sy “nie die vergadering wou bywoon nie”.

“Sy was nog nie een keer in Morningstar om te kyk in watter omstandighede ons moet bly nie. Sy is tog ons ‘councillor’ as ons moet stem, maar waar is sy nou?” het een gesê.

Arendse het gesê Uys wil nie met haar gesien word nie oor die saak van aanranding teen haar. Arendse staan tereg op ’n klag van aanranding nadat sy na bewering vir Williams van die MDUI by ’n vorige vergadering op 4 September voor sy bors gestamp het.

Hy het ’n klagte by die polisie aanhangig gemaak nadat hy glo twee ribbes gebreek en ’n gat in sy kop opgedoen het.

Arendse verskyn weer op 8 Oktober in die Bellville-landdroshof oor die saak.

Uys het op navraag aan TygerBurger gesê die hofsaak is sub judice en die MDUI het tot 26 September tyd om sy antwoord op die Stad se laaste betoë in te dien.

Volgens haar het sy al met die forum vergader en help haar kantoor die organisasie om sy finale papierwerk in plek te kry.

“Ek moet die hofsaak respekteer en kan nie na ’n vergadering gaan waar die behuisingsaak bespreek gaan word nie. Ons as raadslede is versoek om die proses te respekteer en nie in te meng nie. As ek inmeng, sal dit ’n verbreking van my gedragskode wees. Sodra daar ’n uitspraak in die hofsaak is, sal ek na die gemeenskap teruggaan,” het sy gesê.

“Vergaderings is al drie keer deur die MDUI ontwrig. Ons wil hê dat die saak moet vlot verloop sodat die mense so gou moontlik kan intrek,” het sy gesê.

Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het aan TygerBurger by navraag gesê die Stad wag nou op ontvangs van die MDUI se beëedigde verklaring in antwoord op die Stad se beëedigde verklaring.

“As die tydperk verstryk wat hiervoor toegelaat word, sal geeneen van die partye verdere hofstukke mag liasseer nie. Die partye sal dan die hof nader vir ’n voorkeurverhoordatum, waar die saak aangehoor sal word. Die hofprosedures moet gevolg word,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.