Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geslote dagsorg: wees moedig
Teddy bear lies on the road

Hoe gemaak as jy voltyds werk en jou kinders se dagsorg skielik sluit?

Talle ouers is onverhoeds betrap deur die noodaankondiging rondom die bekamping van die koronavirus.

Een van die maatreëls wat ingestel is, is dat dagsorgsentrums, sowel as vakansiesorgsentrums, tot 14 April gesluit is.

Vir baie huishoudings is dié skole die primêre dagsorg terwyl ouers werk en niemand tuis na kinders kan kyk nie.

Maureen en William Robertson, wat in Kuilsrivier bly, het twee kinders, Josh (12) en Jamie (4). Sy doen administratiewe werk by ’n finansiële instelling en hy is ’n bestuurder by ’n paneelklopper. Hulle is nog onseker of hulle van die huis af kan werk en het voorlopig verlof geneem. “Ons neem dit dag vir dag, tot ons antwoorde het oor ons werk,” sê sy.

Nog ’n ma, wat drie kinders het en in Stellenberg bly, sê sy het aanvanklik haar kinders alleen tuis laat bly totdat haar werk gesê het sy mag tuis werk.

Sy wil anoniem bly uit vrees vir viktimisasie. Haar kinders is onderskeidelik 14, 11 en 5 jaar oud. Sy het nie gemaklik gevoel om haar ouers se hulp in te roep nie omdat hulle albei seniors is en sy nie die risiko vir hulle wil verhoog nie.

Sy het ook haar huishulp betaalde verlof gegee tot verdere kennisgewing.

Ander inwoners werk weer in skofte. ’n Paartjie in Ridgeworth, wat ook anoniem wil bly, sê hulle werk tans in skofte. Sy werk in die IT-bedryf en hy is ’n datakundige en albei kan tans tuis werk.

Sy werk in die oggend van 04:00 tot 09:00 terwyl haar man na hul tweejarige kyk. Hulle ruil dan van 09:00 tot 12:30. Hulle werk dan albei terwyl hul dogter slaap.

So gaan die dag aan tot 19:00 wanneer hul aand-roetine begin.

Die vrou gaan slaap deesdae saam met haar dogter voor 20:00.

“Dit (is) ’n massive aanpassing om so vroeg te gaan slaap.”

Indien haar werk haar benodig terwyl sy na haar dogter kyk, maak sy maar net ’n plan, sê sy.

Baie ouers met wie TygerBurger gepraat het, sê hulle maak staat op familielede. Ander probeer werk terwyl hulle ook na hul kinders kyk.

“Dis baie uitputtend en stresvol,” vertel Monique Visser.

Party het hul kinderversorgers by hulle laat intrek of die skool se onderwysers of ander hulp gehuur om nou na hul kinders te kyk.

Vir baie is dit ’n uitdaging wanneer hulle oproepe vir werk moet neem.

“Dit is ’n gemors,” vertel nog ’n ouer.

“Ek moes my kinders omkoop met sap en skyfies en in ’n ander kamer sit, maar dit het net vyf minute gewerk.”

Skole en afslag in hierdie tyd

Moet skole afslag gee omdat hulle in hierdie tyd toe is en steeds betaal word?

Stella Olivier is die eienaar van ’n dagsorg- en nasorgfasiliteit in Durbanville.

Sy het al ouers gekry wat vir haar gesê het hulle kan nie nou meer bekostig om te betaal nie en het ook al op sosiale media gesien dat mense sê dit is onregverdig om aan te hou betaal vir ’n diens wat hulle nie meer kry nie.

Party sê hulle moet nou vir ekstra hulp betaal om na hul kinders te kyk terwyl hulle die skool betaal en ander sê hulle verdien nou selfs minder geld weens die krisis en kan nie meer betaal nie.

“Hierdie sluiting is op ons afgedwing en dit is nie iets wat ons gekies het nie.

“Ons het met ’n klomp verskillende departemente baklei om oop te bly vir daardie ouers wat geen ander uitweg het nie en hulle het almal nee gesê. Niemand is bly hieroor nie. Alle klein besighede stres.”

Olivier het agt werknemers wat almal op hul inkomste staatmaak en sy kan nie bekostig om hulle te betaal as ouers haar nie betaal nie.

“Mense raak nou paniekerig, maar hulle moet ook onthou dat die lewe (eendag) weer nader aan normaal sal lyk.”

Sy sê om nou op te hou betaal, sal net tot desperaatheid, armoede, verhoogde stres en misdaad lei.

“Wanneer die wêreld weer asemhaal, waarheen gaan die kinders dan?”

Sy sê sy kan ook nie langer oop bly in Desember nie, want haar skool is reeds vir twee weke in Desember oop.

Vanessa Reid is die eienaar van Little Explorers in Durbanville, waar 30 kinders skoolgaan. Sy sê die skool gaan vir ’n tydjie langer oop bly in Desember.

“Dit help natuurlik nie vir die kontantvloeiprobleem nie (vir beide die skole en ouers nie), maar ons wil ons bes doen om te help waar ons kan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.