Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gewilde eetplek ‘op laaste bene’

As die huidige alkoholverbod nie binnekort deur die regering opgehef word nie, sal die gewilde Palms Restaurant op die Bottelarypad binnekort sy deure permanent moet sluit.

Dié restaurant, met 600 sitplekke binne en buite, is in 2009 geopen en verskaf werk aan 43 mense.“Ná 120 dae sonder inkomste is ons nou op ons laaste bene ek weet nie of die onderneming nog ’n maand sal staande bly nie,” het die bekommerde eienaar, William Wilson, verlede week aan TygerBurger gesê. Wilson besit ook twee kroeë in Brackenfell en Parow.

Werknemers en gaste het verlede Woensdag 22 Julie buite die restaurant aan ’n vreedsame protesaksie deelgeneem wat landswyd onder die vaandel “Million seats on the streets” plaasgevind het.

Betogers het tussen 12:00 en 14:00 langs die Bottelarypad saamgedrom. Hul plakkate het dit uitbasuin: “Restaurants create jobs!” en “Jobs save lives!”

Sedert dié restaurant aan die begin van Julie kon oopmaak vir aansit-etes, het dit nog net tussen 5% en 7% van sy normale omset behaal.

“Ons is gelukkig as ons sewe tafels per dag kry. Kelnerinne oorleef tans net op minimale fooitjies, kroegmanne sit by die huis en die bestuurders kry ’n minimale salaris,” sê hy. Williams sê die skerp daling in sake gaan definitief oor alkoholverbruik.

“Mense wil nie gaan uiteet as hulle nie ’n drankie saam met hul kos kan geniet en saam met vriende kan ontspan nie. Dit word net nie gedoen nie. Verbruikers sal eerder by die huis eet of ’n wegneemete by deurry-kettingrestaurante koop.”

Soos baie ander restauranteienaars landswyd verstaan Williams nie die regering se beweegrede agter dié regulasie nie.

“As taxi’s teen volkapasiteit bedryf kan word, hoekom kan restaurante nie drank verskaf nie? Ons het derduisende rande uitgelê om die veiligheid van klante te verseker. Tafels staan ver uitmekaar uit en is so uitgelê dat mense met hul rûe na mekaar sit,” verduidelik hy.

“In dié stadium is die onsekerheid die ergste. Ek kan nie vir jou sê hoe moeilik dit is nie. Niemand het antwoorde vir ons nie. Dit maak ons dood.”

Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die Restaurant-Assosiasie van Suid-Afrika (Rasa), het ook Woensdag tydens die “Million seats on the streets”-protesoptog in die middestad ’n memorandum aan die minister van toerisme, Nkhensani Kubayi-Ngubane, oorhandig met voorstelle om die bedryf te red. Die voorstelle sluit die opheffing van die drankverbod in. Volgens Alberts het die voorstelle egter op dowe ore geval.

“Dié voorstelle sou Saterdag op ’n departementele vergadering bespreek word, maar toe ek bel om uit te vind wat gebeur het, is ek ingelig dat ons memorandum nie eens ter tafel gelê is nie,” het ’n moedelose Alberts Maandagoggend aan TygerBurger gesê.

“Ons smeek die regering om iets, enigiets, te doen om die bedryf te red. Ons het nie meer tyd oor nie. Derduisende mense gaan hul werk verloor,” sê Alberts.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede in die Stad Kaapstad, het die protesaksie ondersteun.

“Die ekonomie van Kaapstad is baie afhanklik van toerisme en verwante sektore vir werk en ekonomiese aktiwiteit,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.