Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Glo oor hond weggewys

Die Universiteit Stellenbosch (US) se regskliniek maak gereed om hof toe te gaan in moontlik nóg ’n baanbrekersaak, dié keer as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer en regstudent, Hendri Herbst.

Met ’n besoek aan die restaurant van die bekende Kaapse wynmakery Durbanville Hills teen die einde van 2014, is Herbst, wat heeltemal blind is, na bewering toegang geweier omdat sy gidshond by hom was.

“Volgens Herbst het ’n werknemer van Durbanville Hills geweier om hom en sy familielede ’n tafel in die restaurant te gee, glo omdat die wynmakery se beleid is dat geen honde in die restaurant toegelaat word nie,” sê ’n woordvoerder van die regslinkiek. Daarbenewens beweer Herbst dat hy ook gebruik van die restaurant se toiletgeriewe geweier is, tensy ’n manlike lid van sy geselskap – en nie sy gidshond nie – hom vergesel. Dít, reken die Paralimpiese medaljewenner, was onbillike diskriminasie op grond van sy gestremdheid.

“Die saak, wat by die gelykheidshof aanhangig gemaak is, is in meer as een opsig belangrik. Eerstens sal dit na verwagting duidelikheid bied oor die regstandpunt wanneer ’n gemarginaliseerde individu se eis verstryk omdat ’n amptenaar van die hof versuim om hofstukke betyds te beteken. Boonop sal dit die eerste keer wees dat ’n Suid-Afrikaanse hoër hof uitspraak lewer oor of dit op onbillike diskriminasie neerkom om blinde persone toegang tot ’n perseel te weier omdat hulle van ’n gidshond vergesel word. Volgens die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging kom sulke voorvalle daagliks voor. Herbst se saak kan dus ’n presedent help skep,” meen die woordvoerder.

Monja Posthumus-Meyjes, regskliniekprokureur, sê hoewel Suid-Afrika die Verenigde Nasies se konvensie oor die regte van persone met gestremdhede en die bevordering van gelykheid bekragtig het, het die land tans geen wetgewing wat spesifiek bedoel is om persone met gestremdhede te beskerm nie.

“Die witskrif op die regte van persone met gestremdhede wat in Maart 2016 gepubliseer is, vorder teen ’n slakkepas, terwyl die reg oor diskriminasie en die beskerming van persone met gestremdhede ook nog nie juis deur regspraak ontwikkel is nie,” sê sy.

Herbst se saak bied dus ’n belangrike geleentheid om nuwe stukrag te verleen aan wetgewende pogings om persone met gestremdhede teen wydverspreide diskriminasie te beskerm.

Volgens dr. Theo Broodryk, hoof van die regskliniek, het hulle ingestem om Herbst te verteenwoordig omdat die saak strook met die kliniek se visie om kwesbare gemeenskappe te bemagtig sodat hulle stem in regsake gehoor kan word.

V Na bladsy 2.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.