Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
G’wood se eie ‘lewende’ erfenis’

Met Erfenismaand in gedagte het TygerBurger vandeesweek gesels met een van Goodwood se bekendste inwoners, Louwtjie Rothman (84).

Rothman is die eienaar van die sinkhuisie by Fitzroystraat 81, wat volgens munisipale rekords uit 1904 dateer. “Dit is ’n jaar voor Goodwood as dorp geproklameer is,” vertel hy. Volgens navorsing wat ds. Johan Wepenaar gedoen het in die Woltemade-begraafplaas (in Maitland), moes daar al huise in die 1880’s gewees het, sê hy.

Die area waar Goodwood vandag is, se naam was eers Waaisand, vertel Rothman.

Hy sê destyds toe die eerste erwe uitgemeet is deur die eiendomsmaatskappy van Joyce en McGregor, het die landmeters Kaapse voet gebruik wat so bietjie langer as Engelse voet is. “So, die erwe is as 100 voet diep en 50 voet breed uitgemeet.”

Die sinkhuis is laat bou deur Wilfred Combrinck, wat drie erwe gekoop het. Die ander twee erwe is aanvanklik gebruik vir perdestalle, sê Rothman.

Nie een van die heinings op die erwe was heeltemal reg nie, want Combrinck het toe hy sy erfpenne ingeslaan het, in Britse voet gemeet. Rothman se pa, Elias. het later die twee erwe by Combrinck gekoop.

Hy kan nie presies onthou wanneer hy die huis in Fitzroystraat 81 gekoop het nie, maar hier in die 1980’s het sy vrou, Stella, dit mooi gerestoureer. Sy het selfs die bloomer lace van gegote yster gekry om die oorspronklikes te vervang en gekleurde glas vir die gangdeur se ruitjies. Die houtpanele binne het net al te veel lae verf op gehad en ongelukkig het die vorige eienaar reeds die houtvensterrame vervang, sê Rothman.

Die vorige eienaar het een van die sinkplate verwyder om ’n venster in te sit en Rothman sê “jy sal nie glo hoe swaar is een van dié plate nie. Dis nie soos vandag s’n gegalviniseerd nie, maar met lood bedek.”

Rothman is nog steeds bedrywig by die skoolklerewinkel Rothmans Clothing, wat nou al amper 81 jaar lank sake doen uit Surreystraat 80. Sy pa, Elias Rothman, het op 8 Desember 1936 £ 50 aan die Village Management Board betaal om te begin handel dryf. Hy vertel trots dat die onderneming se rekening by Standard Bank in Maitland sedertdien nog nooit ’n oortrokke rekening gehad het nie. Destyds moes sy pa van die winkel af stap tot in Voortrekkerweg, waar hy ’n bus sou haal om die geld te gaan deponeer in Maitland.

In die begin het hulle net skoene verkoop en omdat sy pa ’n Engelse boekhouer gehad het, is die besigheid Laurence Villa Shoe Store genoem – afgelei van Louwtjie se naam en “villa” omdat dit ’n huiswinkel was.

Al lyk sy huis deesdae “soos ’n tronk” en is daar kameras rondom sy winkel, lê Goodwood steeds ná aan Rothman se hart.

Die naam is immers ’n afleiding van ‘‘vriend van God” sê hy. Volgens ’n gedenkblad van Vrijzee is die oorspronklike Goodwood-perderenbaan in Engeland se naam afgelei van Godwin’s Wood. Die enigste perderen wat ooit in die plaaslike Goodwood gehou is, was op Saterdag 16 September presies 112 jaar gelede in 1905. Weens regstappe deur die “turfklub” was dit ook die laaste.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.