Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Haas jy jou aftreegeld na die buiteland?

Die bespiegeling rondom moontlike verdere voorskrifte (bate-allokasie) in Suid-Afrikaanse aftreefondse het ’n weersin laat opbou by beleggers om enige verdere aftreegeld in aftreefondse te belê. Hiervolgens kan voorgeskrewe bates dit verpligtend maak om in sekere regeringsbates te belê, asook te investeer in die regering se ontwikkelingsprojekte – soos skole, staatshospitale en infrastruktuur.

Sedert Artikel 7C (Geagte Rente Inkomste) ingestel is op die leningsrekeninge vir trusts, bly aftreevoertuie een van die min effektiewe gereedskapstukke vir boedelbeplanning. Alternatiewe boedelbeplanningsopsies neem baie jare om koste- en belastingeffektief te implementeer. Dit is daarom gevaarlik om jou aftreefondsstrategie (een van die hoekstene van ’n boedelplan) prys te gee, nadat jy dit oor baie jare opgebou het.

Beleggingsbesluite soos hierdie word dikwels as ’n kleiner en minder drastiese besluit beskou. Die besluit beïnvloed byvoorbeeld nie jou onmiddellike leefstyl nie, maar wesenlike langtermyn-implikasies is vlak onder die oppervlak verberg. Die waarheid is dat hierdie besluite in die langtermyn reusegevolge kan hê. Die impak van onttrekking uit aftreefondse en geleentheidskoste (van nie bydrae nie), kan soos volg gekwantifiseer word:

. Lompsom-onttrekkingsbelasting

Voor-aftrede-onttrekking vir bedrae > R25 000 (kumulatief bygevoeg) word belas teen ’n minimum koers van 18%. Hierdie belastingkoers styg inkrementeel tot ’n maksimum van 36%. ’n Lompsom-onttrekking van byvoorbeeld R5 miljoen voor aftrede sal dus ’n belastingverpligting van sowat R1,65 miljoen (32,94%) veroorsaak.

Na-aftrede-onttrekking vir bedrae > R500 000 (kumulatief bygevoeg) word belas teen ’n minimum koers van 18%. Hierdie belastingkoers styg inkrementeel tot ’n maksimum van 36%. ’n Lompsom- onttrekking van byvoorbeeld R5 miljoen ná aftree-ouderdom sal dus ’n belastingverpligting van plus-minus R1,55 miljoen (31,05%) veroorsaak.

. Beleggers wat nie verder bydraes maak tot uittree-annuïteite of pensioenfondse nie sal hul belastingaftrekkings verbeur (27,5% van die grootste van belasbare inkomste/verdienste – ’n maksimum-aftrekking van R350 000 per belastingjaar). Veronderstel ’n maksimum marginale belastingkoers van 45%, dan sal ’n belegger ’n maksimum van R157 500 per jaar in belastingterugbetalings (R350 000 x 45%) verbeur.

. Belasbare boedel: Beleggerskapitaal buite offisiële aftreefondsvoertuie vorm deel van ’n belegger se belasbare boedel (boedels < R30 miljoen teen 20% en boedels > R30 miljoen teen 25%). Diskresionêre kapitaal sonder ’n aangewysde begunstigde is ook onderworpe aan eksekuteursfooie van tot 3,5% plus BTW.

. Bates buite pensioenfondse (byvoorbeeld markgekoppelde / fisiese bates) is meestal onderhewig aan kapitaalwinsbelasting by verkoop/afsterwe (maksimum 18% van wins, bokant vrystelling).

. Beleggings buite pensioenfondse ervaar dividend-, rente-inkomste- en selfs buitelandse “situs”-belastings.

Finale risiko-oorwegings voordat jy jou aftreefondse skuif:

. Beskerming wat pensioenbeleggings geniet (ingevolge die pensioenfondswet) teen krediteure-eise, spesifiek vir besigheidseienaars/boere.

. Onttrekking van kapitaal uit “ongewilde” JSE en herbelê in rekordhoogte Amerikaanse aandelebeurse.

. Onttrekking van kapitaal uit ’n swak Suid-Afrikaanse rand en herbelê in sterk Amerikaanse dollar.

Beleggers wat tans hul aftreefondse onttrek en inderhaas buiteland toe neem, moet besef dat so ’n besluit wesenlike verandering binne hul welvaartstruktuur veroorsaak. Ek stel altyd ’n holistiese, gediversifiseerde benadering voor.

– Richus Nel (Finansiële adviseur by PSG Wealth, Old Oak. E-pos: richus.nel@psg.co.za)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.