Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Help om vyf etes voor te sit
woman slicing red onion

Die kaartjieverkope vir die Vrouedag-noenmaal van Eagle’s Nest Ministries van Wallacedene sal help dat 456 kinders op vyf dae pleks van net drie dae per week etes ontvang.

Deur ’n kaartjie te koop vir die noenmaal op Vrydag 9 Augustus in Bellville, sal jy ook ’n bydrae maak tot die bou van ’n nuwe klaskamer.

“Die skool is in 2006 deur Dave en Celia Goddard begin. Dit was hul roeping om deur opvoeding ’n verskil in kinders uit agtergeblewe gemeenskappe se lewens te maak.

“Wallacedene is die eerste informele nedersetting waar hulle met hul roeping begin het. Die onderrig word gegee ongeag die godsdienstige, kulturele, etniese of sosio-ekonomiese agtergrond van die kind,

“Ons bied klasse vir graad R tot graad 7 aan en daar is baie behoeftes wat ons moet help bevredig,” het Anel Smit, assistent-direkteur en fondsinsamelaar van die organisasie, gesê.

Volgens haar word daar nie vanjaar ’n spesifieke behoefte uitgelig nie, maar al die geld wat met die noenmaal ingesamel word, sal gebruik word om die kinders hoop te gee.

“Behalwe die klaskamer, benodig ons ook kunsbenodigdhede. Net soos met ander organisasies het ons ook maandelikse uitgawes om te dek.

“Ons soek borge om ’n kind, ’n ouer, ’n verjaardagpartytjie te borg of in van ons ander behoeftes te voorsien. Enige hulp of goedere wat by die skool afgelewer word, word waardeer, maar as jy voel jy wil ook betrokke raak by die organisasie, is jy ook welkom,” het sy gesê.

Die gemeenskap is vir die organisasie belangrik en die kinders word van kleins af geleer om altyd terug te ploeg in hul gemeenskap.

“Van die spesiale projekte wat ons deur die jaar aanbied, is beslis die dag waarop kinders hul ‘Gogo’ (ouma) kan bederf.

“Die meerderheid van die kinders kom uit arm huise en kom by die skool aan sonder ontbyt. As deel van ons holistiese benadering, word ’n voedingskema aangebied, maar ons kan net twee middagetes per week en drie ontbyte aanbied.

“Met die publiek se hulp hoop ons om die voedingskema uit te brei sodat ons vyf dae per week die kinders van kos kan voorsien,” het Smit gesê.

Weens die ekonomiese omstandighede van die gemeenskap, kos skoolgeld R85 per maand per kind.

’n Geringe bydrae word deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gemaak, maar dit is nie voldoende nie.

“Ons is bevoorreg om Heinrich Gabler, Mnr. Suid-Afrika 2019, as een van ons sprekers op Vrouedag te kan hê.

Jana Retief sal die gaste ook toespreek oor hoe om beter en gesonder te eet. ’n Driegang-maaltyd word bedien, pryse word uitgedeel en ’n geskenksakkie word aan almal uitgedeel.

“Kaartjies kos R170 per persoon of R1 500 vir ’n tafel van 10 en kan by Quicket bespreek word. Die noenmaal word in die Father’s House Christian Fellowship-kerk in Bellbusksingel in Bellville vanaf 11:30 gehou. Ons het ook ’n koorklub begin en op Vrydag 9 Augustus sal die koor vir die eerste keer optree,” het Smit gesê.

Die koorklub volg op die hakke van die koerantklub, wat die kinders die geleentheid gee om bo en behalwe hul normale skoolwerk, hulself te kan uitleef deur iets waaroor hulle passievol is.

  • Rig navrae aan Anel by 079 582 5026 of stuur ’n e-pos na getinvolved@eagles-nest.org.za met navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.