Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hengelaars, Stad kom byeen
(Pixabay)

Verskeie voorstelle is gemaak op ’n onlangse vergadering tussen varswaterhengelaars en die Stad Kaapstad – onder meer dat hengel as ’n proeflopie by die Vygeboomdam in Durbanville ingestel word.

Dié vergadering op 11 Maart kom nadat varswaterhengelaars van onder meer die Kaapstadse Varswater-hengelvereniging die Stad genader het oor die Stad se voorgenome planne om die hengelbeleid by varswaterbronne in die stad te hersien.

Die Stad se departement van parke en rekreasie het in Februarie aangekondig dat hy met ’n openbare deelnameproses begin om ’n volhoubare oplossing te vind vir visvang as ’n ontspanningsaktiwiteit by damme in openbare oop ruimtes.

Daar is in 2005 ’n moratorium geplaas op hengel by damme ná talle klagtes oor swak gedrag van hengelaars en beserings wat watervoëls opdoen weens vislyn en hoeke wat agtergelaat word.

In 2007 is ’n ooreenkoms bereik dat hengel slegs seisoenaal – tussen Oktober en April – met ’n permit by die Doordekraal-dam in Kenridge en Elsieskraalrivier toegelaat sal word. Dié rivier, wat in die Tygerberg-heuwels ontstaan, vloei suid-weswaarts tot waar dit by die Swartrivier suid van Pinelands aansluit.

Ondanks die moratorium het onwettige hengel egter steeds plaasgevind by damme soos die Sonstraaldam, Vygeboomdam en Uitzichtdam in Durbanville.

Inwoners rondom die Uitzichtdam het sowat ’n maand gelede kapsie gemaak teen die onwettige hengel by dié dam nadat ’n kolgans se pote verstrengel geraak het in vislyn en daardeur geamputeer is. Die kolgans is deur ’n plaaslike veearts van kant gemaak nadat inwoners daarin geslaag het om dit te vang.

Hengelaars het egter weer in Junie verlede jaar ’n belangrike rol gespeel om die drywende indringerwaterplant, die Kariba-waterplant, uit die Vygeboomdam te verwyder.

Die Kaapstadse Varswater-hengelvereniging het op 18 Februarie ’n versoekskrif aan raadslede by die Durbanville- munisipale kantore oorhandig en ’n vergadering aangevra.

Volgens Marais Bergh, voorsitter van die vereniging, is op die vergadering daarna op 11 Maart deur amptenare van die departement van rekreasie en parke onderneem om ’n voorstel te maak dat hengel by die Vygeboomdam vir ’n proefperiode gewettig word.

“Dit gaan egter onderhewig wees aan talle voorwaardes en reëls, wat hulle nog moet opstel. Ons is ook gesê dat die impakstudie binne die volgende ses maande afgehandel behoort te wees,” het Bergh gesê.

Die vereniging het ook voorstelle gemaak rondom Prinsesvlei, ’n vlei oos van Heathfield – onder meer dat ’n beleid van vang en vrylaat ingestel word om die visbron te beskerm.

“Die bron word nou daar vinnig gestroop,” het hy gesê.

“Die Kaapstadse Varswater-hengelvereniging is ’n Facebook-groep met meer as 100 lede wat ten doel het om ons gemeenskaplike hengelprobleme op te los en is nie ’n amptelike vereniging nie,” het Bergh gesê.

“Varswaterhengel is in Suid-Afrika ’n baie gewilde sport.

“Ons as hengelaars voel dat ons geleenthede van ons weggeneem word deur die huidige toedrag van sake, wat deur die Stad Kaapstad ingestel is.

“In hierdie stadium is daar geen behoorlike hengelplek meer oor binne die grense van die stad nie. Waar hengel nie verbode is nie, is die bronne in so ’n swak toestand dat hengel nie kan plaasvind nie.

“Hoewel besoedeling van die omgewing deur hengelaars, asook hul swak optrede, voorgehou word as die redes waarom die bronne vir ons gesluit word, het jaarlikse hengel binne Kaapstad minder impak op die omgewing as wat die Cape Town Cycle Tour alleen het, om nie eens te praat van die Two Oceans- marathon nie.

“As die rede besoedeling is, moet hierdie twee byeenkomste, en enige ander fietsren en marathon, ook verbied word.

“Dis skrikwekkend hoeveel plastiek weens hierdie sportbyeenkomste in ons water beland,” het Bergh gesê.

“Daar is ook voortdurend fietsryers en atlete op die pad waarmee rekening gehou moet word.

“Van die res van ons padgebruikers word verwag om verdraagsaam te wees teenoor hierdie sportmense – só vra ons dan dat die publiek ook teenoor ons verdraagsaam moet wees,” het hy gesê.

Volgens Bergh word hengelaars dikwels verantwoordelik gehou vir besoedeling en lawaai by plekke soos die Vygeboomdam.

“Dit word egter veroorsaak deur mense wat glad nie hengel nie. Baiekeer kom hou mense partytjies daar en raas tot laatnag en los hulle rommel net so.

“Hierdie besoedeling en swak gedrag is dinge wat ons kan pak as die wetstoepassingsowerhede en ons hengelgemeenskap koppe bymekaar sit,” het hy gesê.

Die vereniging het in sy petisie versoek dat minstens twee bronne dringend beskikbaar gestel word vir gesinshengel.

“Hierdie plekke moet veilig wees sodat ’n ouer met sy of haar kinders sal kan sit en hengel, sonder om bekommerd te wees oor hul veiligheid,” lui die versoekskrif.

Die vereniging het versoek dat die bykomende permitstelsel by die Doordekraaldam behou word en dat die watergras by dié dam verwyder moet word.

“Meer staanplek moet ook beskikbaar gestel word, en beter wetstoepassing moet gehandhaaf word. Daar is verlede jaar verskeie mense daar beroof,” lui die versoekskrif.

“By alle munisipale damme moet ’n beleid van vang- en-vrylaat toegepas word.

“Ons besef ons vis word beskou as indringerspesies, maar van alles in die munisipale water is dit basies al wat regtig sinvol deur die inwoners van Kaapstad benut kan word.

“Ons as hengelaars het ’n grondwetlike reg om ons sport te beoefen, en die Stad het ’n verantwoordelikheid om die geriewe vir ons daar te stel, net soos hulle dit vir ander sportsoorte doen.

“Om die geriewe te sluit omdat dit die maklikste oplossing blyk te wees, gaan nie die probleem laat verdwyn nie.

“Ons as hengelaars is bereid om hande te vat met die Stad, maar verwag van die Stad om dieselfde te doen,” lui die versoekskrif.

Talle van hul voorstelle en versoeke was ook aangaande Prinsesvlei, Zandvlei en Zeekoeivlei, wat in die suidelike voorstede geleë is.

Zahid Badroodien, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir dienste en gesondheid, het gesê die Stad is tans besig met ’n studie om die lewensvatbaarheid van hengel en ander ontspanningsaktiwiteite by die meer as 60 damme in openbare oop ruimtes vas te stel.

“’n Omvattende openbare deelnameproses sal alle rolspelers betrek voor enige besluite om damme vir hengel en ander aktiwiteite oop te stel, geneem sal word,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.