SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Hoof roep vaarwel

Dit is min dat ’n skoolhoof jou persoonlik by die huis sal gaan haal as jy sonder goeie rede tuisbly.

Dit is ook selde dat onderwysers 45 jaar lank by een skool bly. Of vir drie geslagte skool hou.

By die Primêre Skool Bellville-Suid is dit niks nuuts nie. Almal ken immers al jare lank die raakvatter-hoof, Diane Cupido (64).

Die hele skoolgemeenskap neem al weke lank stadigaan afskeid noudat Cupido ná 45 jaar aftree.

“Sjoe, die skool se mense is seker nou baie hartseer,” vertel een ouer by ’n ander skool.

“Vra haar hoe sy so jonk bly,” vra ’n ander.

Sy lag kliphard toe ek vra. “Dit is die kinders wat my so jonk hou.”

Dit is byna onmoontlik om Cupido van die skool te skei. Vir haar is die kinders nog altyd belangrik.

Dit is waar, beaam sy. “Die skool het nog altyd eerste gekom.”

Daarom gaan sy nou ook meer tyd saam met haar gesin deurbring; meer kos saans voorberei hê as haar dogters, Tarryn (29) en Ilke (21), en haar man, Allan, tuiskom.

Tog gaan sy sukkel om stil te sit, erken sy. Sy het al twee aanbiedinge vir ander werk, maar wil nie nou daaroor uitbrei nie.

Sy onthou nog daardie eerste dag toe sy as 19-jarige onderwyseres by die skool ingestap het.

Op haar eerste dag by die skool was haar gesin so trots, haar ma, pa, oupa, broer en selfs die hond het haar kom wegsien.

Sy het ’n egte leertas gehad wat haar ma nog op bêrekoop gekoop het.

Daarin het sy haar brood en ’n rooi pen gedra. “Ek het nie geweet wat ek nodig gehad het nie, maar ek’t geweet ’n onderwyser gebruik ’n rooi pen.”

Sy het voor haar eerste gr. 2-klas gestaan en skielik was haar bene “soos jellie”. “Ek het besef ek is ’n onderwyser.”

Hierdie verantwoordelikheid het skielik so swaar op haar tenger skouers gelê.

Dit was egter niks in vergelyking met die gevoel van verantwoordelikheid toe sy eers hoof geword het nie.

Sy het vir die eerste twee jaar glad nie eens gesit in die groot swart stoel in haar kantoor wat vir die hoof bedoel is nie.

Dit was immers nooit haar aspirasie om hoof te word nie. Sy het maar stelselmatig van rolle verwissel.

Eers was sy hoof van ’n departement, toe adjunkhoof en toe waarnemende hoof in 2012.

Sy het eers gedink sy gaan net vir ’n paar maande instaan terwyl die departement ’n nuwe hoof soek, maar toe besef sy die werk is eintlik lekker.

“En weet jy, van my beste tye in my loopbaan was as hoof.”

Verlede jaar het die skool ’n besondere jaar beleef.

Die radiostasie KFM het by die skool uitgesaai (“die hele gemeenskap was hier!”) en sy en ’n paar leerders was gaste op Expresso (“toe ek hoor, toe weet die hele Bellville-Suid daarvan”).

Dit was egter vir haar die lekkerste wanneer vakbestuurders haar onderwysers vir hul skoolhouvermoëns komplimenteer. Toe weet sy hulle doen iets reg.

Die laagste punt in haar hele loopbaan het toevallig ook verlede jaar, in die jaar van groot gebeurtenisse, plaasgevind. Dit was toe die kankerlyer, Indica Christians (8), gesterf het. Christians was ’n gr. 1-leerder aan die skool toe sy gediagnoseer is. Tydens haar etlike maande in die hospitaal het Cupido en ander onderwysers haar gereeld besoek. Christians het selfs ’n prent van Cupido geteken, wat steeds in ’n raam op haar lessenaar staan. “Hierdie een vat ek saam (huis toe),” sê sy en raak aan die geraamde prent, terwyl sy vir die eerste keer in die onderhoud hartseer lyk.

Sy het ook ná aan Christians se ouers geword. By die skool werk sy immers dikwels al met drie geslagte se kinders. Sy ken families se stories en word dikwels na huise ontbied om namens ouers met kinders te kom praat. “Ons het ’n wonderlike verhouding.”

Daar is baie wat sy by die skool gaan mis, maar die drukkies van die kinders is seker die een wat uitstaan. “Ons is ’n drukkie-skool.”

Drukkies is ook een van die skool se redes vir sukses, sê sy – dít en ’n paar sleutelprojekte. “Ons skool is baie pro-aktief. Ons bedryf ’n voedingskema. Ons kinders se magies is altyd vol.”

Daar is ook baie “engele” wat vir hulle sorg, wat byvoorbeeld kos aflaai wat hulle weer onder behoeftige gesinne versprei.

Sanlam het hulle ook as ’n Blue Ladder-skool gekies en bied hulle baie ondersteuning. Daar is daagliks naskoolse programme wat aangebied word om kinders te help verbeter. Vir haar is die hip hop-danse op Vrydae ’n hoogtepunt. Dan dans sy vir ’n vale saam.

Onderwys is ’n fantastiese beroep, glo sy. Sy raak só trots as mense vir haar sê hulle wil onderwysers word. 

“Mense raai hulle altyd af, maar daar is soveel belonings (in skoolhou.)”

Die persoon wat haar as Bellville-Suid Primêr as hoof gaan opvolg, gaan baie empatie moet hê, sê sy, maar nie die kinders bejammer nie. “En gaan baie drukkies moet gee.”

Die adjunkhoof, Quentin Heinrich, gaan vir eers waarneem. Die onderhoud staan einde se kant toe en Cupido roep ’n groep kinders om saam te staan vir ’n foto. Almal is ooglopend mal oor haar. 

By hierdie skool was hul hoof nog altyd ’n vergestalting van die skool se leuse, “Lig voor”.

Wanneer sy op Saterdag 7 Desember die laaste keer as hoof by die skool uitstap, stap ’n reuse-lig uit die gemeenskap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.