Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hoof sien uit na uitdaging

Die eerste ding op sy dagboek as nuwe skoolhoof by Jan Kriel is om elkeen van sy 140 personeellede en leerders op hul naam en van te leer ken.

Só meen Gerrit Odendaal, nuwe skoolhoof by dié spesiale skool in Kuilsrivier, wat begin vanjaar die leisels hier oorgeneem het.

Gerrit was voorheen hoof by die Hoërskool President in Goodwood, maar was op soek na ’n nuwe uitdaging toe hy vir dié pos as hoof by Jan Kriel – ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes – aansoek gedoen het.

Die vorige skoolhoof, Marius Burger, het groot spore gelaat en was ’n legende by die skool, sê Gerrit.

“Ek was 10 jaar by die Hoërskool President. Ek het in 2005 daar begin en was eers adjunk-hoof voordat ek tot skoolhoof bevorder is,” vertel hy.

Die gesoute hoof sê egter hy sien uit na sy nuwe uitdaging.

“Ek het gevoel dis tyd vir my om ’n skuif te maak.

“Ek is lief vir uitdagings.

“President is ’n gewone hoofstroom-skool en nou is ek by ’n spesiale skool met sy eie uitdagings,” sê die 40-jarige.

Een van die uitdagings, vertel hy, is om hoof te wees van beide ’n laerskool en hoërskool – iets besonders uniek vir Gerrit.

“Hier is ook koshuise wat ek sal moet bestuur en die skool se busvervoerskema met 18 busse in totaal,” sê hy.

Bo en behalwe dit is daar ook sy grootste uitdaging nóg – volgens hom om die personeel en leerders by die naam te leer ken.

“By Jan Kriel verskil die leerders van dié by gewone hoofstroom-skole.

“Hier het elke kind sy of haar eie leerhindernis of gestremdheid en ’n mens moet dit anders hanteer,” sê Gerrit.

Hy vertel dat dít hom alles fassineer.

“Ek vind nog my voete.

“Ek beplan nie om groot skuiwe of veranderinge by die skool aan te bring nie. Hier is ’n goeie infrastruktuur waarop ons kan voortbou,” sê hy.

Gerrit sê die hoofdoel – met behulp van sy bekwame en geesdriftige personeel – is om die skip vir eers op koers te hou.

“Ons sal waarskynlik later vanjaar strategiese planne begin uitwerk,” het Gerrit gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.