Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Huise eindelik oorhandig

Meer as twee jaar nadat die begunstigdes van die Morningstar-behuisingsprojek gereed was om in die 166 splinternuwe huise in te trek, gaan die huise uiteindelik binnekort oorhandig word.

Die R34,2 miljoen-behuisingsontwikkeling van sowat 1,6 ha op die hoek van Skool- en Pikkewynstraat bestaan uit 152 dubbelverdieping- en 14 enkelverdiepinghuise, wat nou al sedert September 2018 leeg staan.

Die oorhandiging van die eerste 19 huise op 20 September 2018 het skipbreuk gely toe die organisasie Morningstar Development and Upliftment Initiative (MDUI) op die dag kort voor die oorhandiging motorbande voor die huise in Langebergweg aan die brand gesteek het.

Hoewel die Stad Kaapstad toe ’n dringende hofinterdik teen die MDUI bekom het, het dié organisasie dit teengestaan met ’n teeninterdik om die Stad te verhoed om die huise te oorhandig, hangende ’n hersiening van die proses hoe huise toegeken is.

Verskeie hofprosesse rondom die indien van beëedigde verklarings het daarna gevolg.

Malusi Booi, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het in Augustus vanjaar by navraag aan TygerBurger gesê die Stad en die MDUI is besig met onderhandelings om op ’n vriendskaplike voet ’n skikking buite die hof te bereik.

Hy het só gesê nadat moedelose begunstigdes, van wie talle in wendyhuise en ander opslaanhuise in agterplase van huise in Morningstar bly, met plakkate langs Langebergweg wou betoog teen die gesloer met die oorhandiging van die huise. Die ongeoorloofde protesaksie is gou deur die Durbanville-polisie en wetstoepassingsbeamptes in die kiem gesmoor.

’n Hofbevel is verlede Vrydag, 3 November deur die Kaapse hooggeregshof uitgereik om dié vriendskaplike ooreenkoms te bekragtig wat die partye in Oktober oor die kwessie bereik het.

Dit het die Stad die afgelope twee jaar wat die huise leeg gestaan het meer as R3,65 miljoen aan salarisse vir drie private sekerheidsbeamptes gekos om te verhoed dat die leë huise gevandaliseer of onwettig beset word. Sewe van die begunstigdes is intussen ook oorlede.

Die partye het in November verlede jaar met die burgemeester, Dan Plato, vergader om te probeer om die saak buite die hof te skik. 

Die onderhandelings het in Mei vanjaar begin spoed optel toe die partye se regspanne begin onderhandel het.

Volgens Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, wat Morningstar insluit, gaan die huise en die tuine van die projek eers reggekry word voor die huise oorhandig sal word.

Booi sê in ’n mediaverklaring deur die Stad die direktoraat vir menslike nedersettings is tevrede met die uitkoms van die hofgeding.

“Ons is in ons skik om te sien die proses is voltooi sodat ons begunstigdes in hul nuwe huise kan intrek. 

“Die begunstigdes van hierdie behuisingsprojek is van die kwesbaarste in Kaapstad,” sê Booi.

“Die samewerking en ondersteuning van ’n gemeenskap is die belangrikste faktor om ’n projek binne die kortste tyd moontlik te voltooi. 

“Dit is in die Stad se belang om projekte betyds en sonder oponthoud uit te voer. Daar is sekere praktiese en wetgewende prosesse wat gevolg moet word, wat hier die geval was,” sê hy.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.