Ondanks al die teleurstellings van 2020 het dit vir die eerste 47 inwoners van die nuwe huise in die Morningstar-behuisingsprojek groot vreugde ingehou.
Die sleutels is eindelik ná byna twee jaar weens ’n sloerende hofgeding kort voor Kersfees aan die nuwe eienaars oorhandig.
Die R34,2 miljoen-behuisingsontwikkeling van sowat 1,6 ha op die hoek van Skool- en Pikkewynstraat bestaan uit 152 dubbelverdieping- en 14 enkelverdiepinghuise.
Die res van die 166 begunstigdes sal voor einde Maart in hul nuwe huise kan intrek ná ’n lang gewag. Die begunstigdes is almal mense wat minder as R3 500 per maand kry.
Camilla Hermanus (58), wat sedert haar geboorte in Morningstar bly, was een van die begunstigdes wat onlangs ’n huis ontvang het. Sy moes haar sieklike man in ’n hok in mense se agterplaas versorg. Nou kan sy dit in die gerief van hul eie huis doen.
“Dis baie, baie lekker om ons eie plekke te hê,” het sy verlede Donderdag tydens TygerBurger se besoek aan die behuisingskompleks gesê. Die koerant was reeds gesluit vir die feestyd toe die oorhandiging plaasgevind het.
Die trots het gestraal uit die Jumeth-gesin wat in die snikhete somersdag soos meeste inwoners onder die koeltebome in Langebergweg langs die behuisingskompleks lafenis gesoek het. Mario Jumeth (45) en sy vrou, Valery (44), het 16 jaar by sy broer in Morningstar in sy agterplaas gebly, waar hulle hul 10-jarige seun, Mario-Lee, grootgemaak het. “Ons bly baie lekker,” sê hy.
Die oorhandiging van die eerste huise op 20 September 2018 het skipbreuk gely toe die organisasie Morningstar Development and Upliftment Initiative (MDUI) op die dag kort voor die oorhandiging motorbande voor die huise aan die brand gesteek het.
Hoewel die Stad Kaapstad toe ’n dringende hofinterdik teen die MDUI bekom het, het dié organisasie dit teengestaan met ’n teeninterdik om die Stad te verhoed om die huise te oorhandig, hangende ’n hersiening van die proses hoe huise toegeken is.
Die partye het eindelik in Oktober verlede jaar tot ’n ooreenkoms gekom, wat op 13 November in die hof bekragtig is.