Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong illustreerder nou in groot aanvraag

Terwyl die meeste ander matrikulante verlede jaar gespook het om hul skoolwerk klaar te kry, het Elanie Bieldt (19) die ekstra uitdaging van ’n semi-voltydse werk gehad.

Bieldt, wat in Plattekloof woon, is sekerlik een van die jongste gepubliseerde illustreerders in Suid-Afrika. En nie sommer so nie! Sy het talle boeke al agter die blad en haar lys kliënte groei daagliks.

“Ek het van kleins af geteken,” vertel sy oor hoe sy in die beroep beland het. Sy sou langs haar ma sit terwyl dié gewerk het en klomp verskillende mannetjies teken. Daarna het sy vir jare deur ’n fase gegaan waar sy net perde geteken het.

Toe haar ma, die uitgewer Anna Emm, begin kinderboeke uitgee, het sy ’n illustreerder nodig gehad en dadelik aan Elanie gedink. Sy was toe 12.

“Ek het dit van toe af ge-love,” vertel Elanie.

Destyds het sy al haar prentjies eers met potlood geteken waarna sy met ’n swart fineliner daaroor gegaan het en ingeskandeer het. Haar ma, en later sy, het dit dan digitaal ingekleur.

Deesdae het sy ’n pentablet en sê dit spaar haar baie tyd.

Sy glo sy het haar tekentalent van albei ouers gekry. Haar pa, Freddie, is juis die een wat haar gewys het hoe om perde te teken.

Deur haar werk by Anna Emm-uitgewers het ander skrywers en uitgewers haar ook begin kontak en sy het verlede jaar haar eerste boek vir Lapa geïllustreer. Die boek is nog nie gepubliseer nie.

Dit het soms rof gegaan, veral omdat sy haar matriekeksamen deur tuisonderrig moes voltooi, ander kommissies gehad het en vir haar ma tussendeur geteken het.

Sy het boonop ook by die Anna Emm-boekwinkel in Tygervallei-winkelsentrum gewerk.

Dit is dalk juis haar vroeë blootstelling aan die uitgewerswese wat bydra tot haar groeiende sukses.

Sy het onlangs gehoor drie van die boeke wat sy geïllustreer het, is vir die ATKV-kinderboektoekennings genomineer. Hulle is Atlas-avonture in Spanje deur Mariska Ford, Eddie die sjef deur Liezl Potgieter en Die geldmasjien deur Niki van Wyk.

“Dit was nogal cool en unexpected. Ek het nie eens daarvan geweet totdat iemand my op Facebook ge-tag het nie.”

Vanjaar wil Elanie haar portefeulje opknap en so wyd as moontlik versprei. Noudat sy nie meer op skool is nie, het sy meer geld nodig, sê sy.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.