Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kankerlyers ontvang vroeë Kersgeskenk

Jong kankerlyers in die onkologie-saal by die Tygerberg-hospitaal is verlede week met ’n vroeë Kersgeskenk verras, danksy twee tieners se goedhartigheid.

Teddiebeertjies, opgestopte speelgoed-pikkewyne en dinosourusse sowel as speelgoed- mediese gereedskap is net ’n paar van die artikels wat verlede Dinsdagoggend aan die kinders uitgedeel is.

Elke oorhandiging is met ’n warm glimlag deur die klein kankerlyers begroet.

Die vrygewige gebaar was dié van twee maats, Anika Fourie en Marlee Nel. Die twee het armbande, oftewel scrunchies gemaak en verkoop. Hulle het die speelgoed met ’n gedeelte van hul opbrengs gekoop en op 10 Desember na die onkologie-saal geneem om dit aan die kankerlyers te skenk.

Die oortollige speelgoed is aan die verpleegsters oorhandig wat dit in die saal se speelkamer gaan berg.

Die bemarking en verkope van die armbande is meestal deur sosiale media gedoen. Die bandjies is teen R20 elk verkoop en daar is altesame 120 van hulle van die hand gesit, sê die twee tieners.

“Die kinders is ’n reuse-inspirasie en al is hulle so jonk, is hulle sterk en regte vegters.

“Oktober was kanker-bewusmakingsmaand en ons wou bewusmaking skep van kinders wat aan kanker ly.

“Vanweë al die behandeling wat die kinders moet ontvang, kry hulle nie aldag die kans om net gewone kinders te wees nie. Ek wou om dié rede geld insamel en speelgoed koop sodat wanneer hulle daarmee speel, hulle net vir ’n kort tydjie van die kanker sal vergeet en net ’n kind sal wees en genot sal hê,” sê Anika.

Anika het vanjaar haar matriekjaar aan die Hoërskool Brackenfell voltooi en Marlee is ’n gr. 6-leerder by die Laerskool Bastion.

“Ons wil almal bedank wat ons projek ondersteun het en vir al die donasies,” sê Anika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.