Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kat gered danksy dierekommunikeerder

Danksy ’n dierekommunikeerder is ’n beseerde kat onlangs in Durbanville opgespoor waar sy onder ’n hoop boumateriaal geskuil het.

Toe haar kat Gracie nie die aand opdaag nie, het ’n vrou van Durbanville haar dogter gevra om haar te help om die kat te soek. Hulle het orals gesoek, maar tevergeefs en haar dogter het besluit om die hulp in te roep van Antjie Canning-Rogers, ’n dierekommunikeerder van Suurbraak naby Swellendam.

Hulle het ’n foto van Gracie per e-pos vir haar gestuur en sy het laat weet dat die kat raakgery is en onder boumateriaal by ’n konstruksieterrein skuil.

“Mense was in ons straat besig met bouwerk en ons het daar gaan soek en haar gevind, nes Antjie gesê het,” sê die dogter.

Gracie, die beseerde kat, is vermoedelik deur ’n motor raakgery en die skuldige het net weggery en die kat in haar ellende gelaat. Sy is erg beseer en het mediese uitgawes van meer as R22 000 gehad. Haar een oog is ook erg beskadig en is verwyder. Sy is 18 Maart ontslaan.

Haar dogter en haar vriende kon daarin slaag om skenkings te kry om haar veearts-kostes te dek.

“Die dierekommunikeerder was regtig ongelooflik; ek het nie eens geweet so iets is moontlik nie,” sê sy.

TygerBurger het Antjie genader om uit te vind presies hoe sy dit doen.

“Ek het ’n konneksie gemaak met die kat, en vir haar gevra dat sy my moet wys waar sy is. Ek het toe visioene gesien van waar sy is. Dit kom soos ’n blitsvinnige prentjie.

“Ek het ook vir haar gevra hoe voel sy. Ek kon fisiek aan myself voel sy het ongemak by haar wangbeen, en haar kop het trauma gekry,” sê sy.

Volgens Antjie het dit haar omtrent ’n uur geneem om vas te stel waar die kat is.

Sy maak gebruik van ’n foto waar sy die dier se oë mooi kan sien en sy ’n goeie idee het van hoe die dier lyk.

“Ek moet dan ook die dier se naam weet. Ek sal op die foto fokus en dan moet ek my gedagtes eerstens stil kry.

“So, ek doen asemhalingstegnieke om rustig te word en in ’n bewuste spasie te kan kom. Dit is amper soos net voor jy aan die slaap raak, maar jou brein is nog helder genoeg om te kan vrae vra,” sê sy.

’n Sessie duur enigiets tussen 30 minute of tot drie uur. “Dit hang af hoe gou ek in die regte spasie kan kom om te kommunikeer. Ek wag dan ook dat ek genoeg inligting of visioene kan kry om mee te werk.”

Soms maak diere uit hul eie met haar kontak, sê sy.

“Meestal as ek slaap – in my drome, maar soms kom hulle ook deur as ek rustig is. Maar as my gedagtes te besig is, hoor ek hulle nie,” sê sy.

Sy was tien jaar oud toe sy haar talent toevallig ontdek het. Sy het toe op ’n plaas naby Calvinia gebly, waar sy skoolgegaan het en in die koshuis was.

“Ek het ’n droom van my kat, Nugget, gehad. Ek kon voel my kat roep om hulp en sit vas. Ek was in die koshuis 60 km weg van my ouers en het wakker geword. Ek was onmiddellik bekommerd oor my kat en het huis toe gebel, maar my ma het gesê alles is reg. My ma het die volgende oggend na my kat gesoek en haar in ’n slagyster gekry.”

Toe sy 18 jaar oud was, het sy ’n droom gehad dat haar perd lê en nie kan opstaan nie en dat sy bene vol bloed was.

“Ek was 1 500 km weg van my perd. Die volgende oggend het my ma gebel en gesê my perd het deur ’n motorhek gehardloop en sy bene gebreek.

“Elke keer wat ek drome gekry het, was op die presiese tyd wat my diere my nodig gehad het,” sê sy.

Dit het ook al gebeur dat diere nie met haar wíl kontak maak nie. “Ek het al gevalle gekry waar diere nie wil kommunikeer met my nie – meestal katte wat ander huise soek oor hul slegte lewe by hul huidige plekke,” sê sy.

“In beginsel kommunikeer ek nie met diere as ek weet hulle is dood nie, om myself geestelik te beskerm, maar ek het wel al inligting van diere gekry wat alreeds dood was. ’n Kat het my gewys waar sy is, en die mense het haar dooie liggaam gevind by die plek waarvan ek visioene gesien het.”

Sy glo ook diere gaan hemel toe. “As ’n Christen lees ek Bybel en daar is baie Bybelverse wat dit bevestig. My vraag aan mense is altyd, as daar dan nie diere in die hemel is nie, hoe kom Jesus dan weer terug op ’n wit perd?”

Sy kon ook daarin slaag om ’n perd naby Atlantis, wat uit moeilike omstandighede gered is en baie wild was, só te kalmeer dat dit mediese behandeling kon kry.

“Die perd het koliek gehad en moes ’n inspuiting kry. Sy was egter wild en het niemand toegelaat om by haar te kom nie. Die vrou van Dassenberg Horse Rescue het my gekontak. Ek het van ’n foto af gewerk en met haar gekommunikeer en haar gevra om stil te staan dat sy ingespuit kan word.”

Een van die snaaksste soektogte was egter toe sy ’n kat moes opspoor wat vies was en weggeloop het toe die mense ’n ander “menseliefde” gekry het. “Die kat was jaloers,” sê sy.

Sy werk met enige tipe diere – meestal katte en honde, maar ook perde en voëls. Sy het ook al met ’n wilde bok, skilpaaie, ’n bebaarde draak (bearded dragon), ’n jakkals, chinchillas en slange gekommunikeer, vertel sy.

As sy enige raad vir diereliefhebbers kan gee om hul diere beter te verstaan, is dit dat mense moet besef diere verstaan baie meer as wat mense dink.

“Hulle hoor wat gepraat word in die huis en tel emosies op. Mense moet meer ingestel wees en met hul diere sommer hardop praat. Veral voor hulle weggaan iewers heen, moet hulle probeer om ’n prentjie te sien van waarvan hulle praat. Die dier sal dit telepaties aanvoel,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.