Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kerke bedien kreatief in krisistyd
kerk

Hoewel daar die afgelope Sondag nog hier en daar kerkdienste (met beperkte getalle) plaasgevind het, het die meeste reeds begin om kreatiewe maniere te vind om hul bediening te midde van die koronavirus-bedreiging voort te sit.

Nog strenger regulasies volg nou nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag aangekondig het inwoners se bewegings word ingeperk vanaf middernag Donderdag 26 Maart.

Sosiale media soos Facebook word algemeen gebruik om lidmate op hoogte te hou en verskeie kerke het die afgelope Sondag hul eredienste digitaal gestroom.

Onder hulle was die AGS Oostenberg Oase in Rouxville, wat reeds verlede week besluit het om alle eredienste te staak tot verdere kennisgewing nadat die regering strenger maatreëls oor die bekamping van die virus bekend gemaak het.

Sondae se boodskap word van 09:00 gestroom en die skakel sal op Facebook geplaas word.

Die NG Suidkerk het aanvanklik voor die inperkingsmaatreëls aangekondig is, gesê al hul dienste is afgestel tot en met Paasnaweek.

Danny du Toit, bedieninge-bestuurder het gister bevestig boodskappe sal steeds Sondae om 09:00 gestroom word. Hulle sal ook inligting via Facebook, e-pos en WhatsApp deurgee aan gemeentelede. “Telefoniese pastoraat, asook Whatsapp-kontak, sal ingespan word.”

Die NG kerk Kuilsrivier (Moedergemeente) se kerkraad het reeds verlede week besluit om alle eredienste af te stel – voorlopig sou die volgende diens op Sondag 19 April wees.

Volgens die kerkraad se kennisgewing is besef dat die weeklikse byeenkomste en eredienste deel van die hart van die gemeente is, maar ook dat hulle ’n verantwoordelikheid het teenoor alle lede van die samelewing – veral diegene wat die kwesbaarste is.

“As ons enigiets kan doen om die verspreiding van die virus te keer, wil ons ons deel doen.”

Maureen du Plessis, gemeentebestuurder, sê die kerk se bediening hou egter nie op nie. Ds. Helené Fouché sal twee maal per week ’n boodskap aan elke gemeentelid stuur wat toegang tot WhatsApp of e-pos het.

Boodskappe sal ook op Facebook gedeel word en skakels na video-opnames sal met lidmate gedeel word.

Die kerkraad het reeds verlede week besluit om die kerk se twee terreinbeamptes, wat afhanklik is van openbare vervoer, op betaalde verlof te plaas.

Die NG Kerk se moderatuur het ook aanvanklik voorgestel dat pastorale besoeke tot ’n minimum beperk moes word. Dit sal nou telefonies of elektronies geskied.

Ds. Johnnie Tromp, leraar van die Christelike Gereformeerde Kerk Kuilsrivier, het verlede week gesê omdat hulle nooit meer as 100 mense op ’n Sondag in die erediens het nie, sou hulle dienste aanvanklik voortgaan soos gewoonlik.

Die afgelope Sondag is handreinigers beskikbaar gestel by die deur aan elkeen wat ingekom het en gemeentelede het ’n veilige afstand van mekaar gesit. Tromp het gister gesê gemeentelede sal op hoogte gebring word oor verdere verwikkelinge.

Die kerkraad van die Verenigende Gereformeerde kerk (VGK) Sarepta het verlede week besluit alle bidure en eredienste word opgeskort tot verdere kennisgewing.

Aanvanklik sou voorsiening gemaak word vir vier dienste oor Paasnaweek in Sarepta en twee in Silversands, maar ds. Pieter Grové het Maandag, in afwagting van Ramaphosa se aankondiging, reeds gesê dit is onderhewig aan enige strenger maatreëls wat ingestel word.

Grové het gesê mense moet hul volle samewerking gee om regulasies te gehoorsaam. “Dit is nie nodig om beangs te wees nie.”

Die VGK span ook tegnologie in om dienste en nuusbriewe elektronies aan lidmate te versprei.

Huisgesinne word versoek om saam dienste te hou op Sondae. Die afgelope Sondag (22 Maart) is deur die VGK as biddag vir die land en die wêreld verklaar.

Past. Ivor Jones van die Desire of all Nations Christian Church het gister gesê die kerk sal ten volle gehoor gee aan die regulasies wat deur die regering afgekondig is.

Alle dienste is gekanselleer en kommunikasiekanale is reeds in plek om met kerklede in verbinding te bly.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.