Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kind byna ontvoer
 child kidnap

Die Brackenfell-polisie het verlede week ’n intensiewe ondersoek begin ná ’n poging om ’n vierjarige kleuter voor haar huis in Protea Village te ontvoer.

Die gemeenskap is geskok ná die voorval op Sondag 27 Oktober omstreeks 15:30.

Ten tyde van die voorval het die meisie en haar agtjarige maatjie voor hul huis in Gladiolussingel gespeel.

“Hulle het die hele oggend voor op die grasperk gespeel en later die middag kom vra om by die buurman te gaan trampolien spring,” vertel ’n ontstelde Magdal de Bruyn, die kind se ma.

“Hulle was so 15 minute by die buurman en toe hulle terugstap huis toe, het ’n vreemde man my kind van agter af in sy arms gegryp.

“Haar maatjie het egter vinnig reageer en haar teruggegryp en hard begin skreeu. Ons het uitgehardloop, maar die man was reeds weg.”

Volgens ’n ooggetuie wat in die straat gestaan het, het die man in ’n ouerige, ligblou Toyota Corolla met ’n geel nommerplaat gespring en weggejaag.

Daar is later op beeldmateriaal van ’n nabye sekerheidskamera gesien hoe die voertuig om 13:00 die singel binne ry en stilhou. Die man was alleen in die voertuig. Die voertuig se regteragterlig was beskadig. “Die man het sowat twee uur in sy motor gesit en hy moes die kinders lank dopgehou en gewag het vir die regte oomblik om toe te slaan,” sê De Bruyn.

“In een stadium het hy gery en weer later teruggekom. My kind is nog erg geskok en weier om alleen buitentoe te gaan. “Ons is almal bevrees nadat so iets in ons stil singel gebeur het en slaap sedertdien baie sleg,” sê sy.

Die agtjarige vriendin het die man beskryf as “’n jong wit man in sy twintigs”.

Wat ook vreemd was, sê De Bruyn, was die lekkergoed wat sy en een van haar bure in hul posbusse gekry het.

“Die eerste keer was sowat twee weke gelede en toe weer Saterdagmiddag. Dit was Fizzer-toffies met ’n plakker wat lees Jesus Loves You langs ’n vreemde sirkel- of kruis-simbool,” sê sy.

“Ons is nie bewus van ’n plaaslike kerk met so ’n simbool nie, en die kerklede wat al by ons besoek afgelê het, klop gewoonlik aan die deur en praat met ons.

“Daar het nog nooit so iets in ons straat gebeur nie, en ons is nie bewus van enigiemand wat ’n persoonlike vendetta teen ons koester nie,” sê De Bruyn.

Brackenfell se polisie het op Vrydag 1 November bevestig dat die lekkergoed na die forensiese laboratorium gestuur is vir ontleding en dat beeldmateriaal tans nagegaan word as deel van die ondersoek.

Kol. Jakobus Marthinus, nuut aangestelde stasiebevelvoerder by die Brackenfell-polisie, sê die misdaad word in ’n baie ernstige lig beskou.

“Misdaad teen ons vroue en kinders sal nie geduld word in ons gemeenskap nie,” sê Marthinus. Hy voeg by dat die voorval ’n geïsoleerde een was. “Ons besoek voortdurend skole en kleuterskole om kinders sensitief te maak oor persoonlike veiligheid en ons sal voortgaan om dit te doen.

“Ons doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om enige verdagte aktiwiteite in woongebiede aan te meld.

“Ons fokus is om die gety teen misdaad te laat draai, en ons kan dit slegs bereik deur die samewerking van ons inwoners en buurtwagte,” sê hy.

Enigiemand wat die polisie kan help met inligting oor hierdie saak, kan die ondersoekbeampte, konst. Luzanne Nel, by 083 307 8045 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.