Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kolgans uitgesit oor onwettige hengel

’n Kolgansmannetjie moes verlede Saterdag uitgesit word, omdat albei sy pote geamputeer moes word nadat dit in die vislyn van onwettige hengelaars verstrengel geraak het.

Van die inwoners rondom die dam in Manchesterstraat in Uitzicht, bekend as die Laer Uitzicht-dam, ontferm hulle al sedert begin Januarie oor die kolgans, waarvan die een poot eers in vislyn verstrengel geraak het en later ook die ander een – só dat hy uiteindelik glad nie meer kon loop of swem nie en besig as om te vrek.

Volgens Neil Swarts, ’n plaaslike prokureur en inwoner rondom die dam, het dit inwoners rondom die dam baie ontstel.

Die kolgans, wat inwoners Donald Duck gedoop het, was die pa van ’n trop van sowat agt klein gansies wat nou alleen deur hul ma grootgemaak moet word. Die kolganspaar was al vir bykans sewe jare ’n bekende gesig by die dam.

Volgens Swarts sukkel die inwoners al lankal met mense wat onwettig daar visvang en is dit al telkemale by die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement aangemeld, sonder enige optrede.

“Ek het dit nooit as ’n groot probleem gesien nie, totdat die kolgans nou beseer geraak het. As ’n mens om die dam stap, sien jy orals stukke vislyn en hoeke rondlê. Dit lyk of die hengelaars hul lyne daar langs die water afsny en net daar los,” het hy gesê.

Volgens hom het hy en sy vrou, Elthea, vir die eerste keer aan die begin van Januarie gesien die kolgans se een poot is in vislyn vasgedraai. Die hoek het in sy vleis ingesny en sy regterpoot was heeltemal opgetrek, het hy gesê.

Hulle en nog mense uit die gemeenskap het sedertdien probeer om die kolgans te vang om hom van die vislyn te bevry, maar kom eers die afgelope Saterdagoggend daarin slaag.

Swarts het gesê sy vrou het daarin geslaag om haar een hand op die gans te sit en hy het soos ’n wafferse skrumskakel geduik om die gans in die hande te kry.

“As hulle net ’n paar onwettige hengelaars wil beboet, sal die boodskap gou versprei,” het hy gesê.

Hy het ook aan die Subraad 7 ’n skrywe gerig en dit het Maandag ’n hele beroering onder amptenare meegebring.

Gerhard Fourie, voorsitter van Subraad 7 en raadslid vir wyk 103, het aan TygerBurger gesê hengel is by al die damme in Subraad 7 verbode. “Dis tragies dat die kolgans só moes sterf. As hengel by ’n dam toegelaat word, sal dit spesifiek só op kennisgewingborde aangedui word,” het hy gesê.

Fourie het gesê hy het die wetstoepassingsdepartement versoek om vir ten minste ’n week, veral ná ure, die dam te patrolleer om teen onwettige hengelaars op te tree. 

Fourie het gesê daar word vermoed dis dalk eerder polisielede as wetstoepassingsbeamptes wat aan die hengelaars gesê hulle mag daar hengel.

Swarts se klagte oor die rits onbeantwoorde klagtes wat hy by die wetstoepassingsdepartement gemaak het, gaan ondersoek word, het Fourie gesê. “Ons het al die verwysingsnommers deurgestuur na die areahoof en het versoek dat terugvoer daaroor gegee word,” het Fourie gesê. 

Hy het gesê die gevare van hengel is dat die visse ingedam word en maklik selfs meer as een hoek in hul bekke kan kry. 

“Dit beperk hul vermoë om te voed. Die afgebreekte stukke vislyn en hoeke beïnvloed ook die voëllewe negatief, soos ons nou gesien het,” het hy gesê. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.