Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kollig dié maand op aanneming
Die Campher-gesin van Hagar’s Choice is hier saam

Oor die wêreld heen het gesinne, pleegsorghuise en ander instansies die afgelope maand tyd afgestaan om oor aanneming te besin.

Internasionale Aannemingsdag is op 9 November gevier en Hagar’s Choice, ’n plek van veiligheid vir babas en kleuters in nood in Bellville, sê hulle vier eintlik die hele maand voluit.

“Baie van ons kinders en babas word aangeneem en dus vier ons ... met die hoop om bewusmaking te kweek, veral omdat baie van ons babas internasionaal geplaas is.

Kom ons vier al die nuwe gesinne wat bymekaar gevoeg is,” sê Thinus Campher van dié organisasie. 

Die organisasie, wat deur ’n gesin uit hul huis bestuur word, het al oor die afgelope ses jaar na altesaam 95 kinders omgesien.

Dit het beteken die gesin en hul vier kinders (van wie een aangeneem is) moet almal inspring om met die kinders te help – mees-tal uit hul eie sak. 

‘Delikaat, maar spesiaal’

Die aanneming van ’n kind is egter nie almal beskore nie en die organisasie sê ’n mens kan op ander maniere betrokke raak.

“Neem ’n kind aan. As jy nie kan aanneem nie, wees ’n voog. As jy nie ’n voog kan wees nie, gee ’n donasie en as jy dít nie kan doen nie, deel die nuus.”

Thinus sê hul eie aannemingspad was spesiaal, maar ook ’n delikate proses, “wat ’n mens na die diep dele van jou hart dwing. Ek voel dis tydens dié proses dat die groter prentjie van die lewe meer realisties word. Aanneming sluit dalk kamers van jou hart oop wat jy nie eens geweet het jy het nie.”

Cara Hartley, wat oorspronklik van Durbanville kom, stem saam.

Sy en haar man, Ryan, het hul eersteling, ’n seuntjie, in 2018 aangeneem.

“Dit maak jou oë oop vir mense se lewenservarings op ’n totally nuwe manier – meer as wat ek verwag het.”

Wye reeks ervarings

Cara sê aannemingsmaand moet nie net gevier word om aannemings aan te moedig nie, maar ook om mense bewus te maak van die breë ervaring wat mense met aanneming het – hetsy as kind of as ouer.

“Vir party mense verloop die aanneemproses glad en dis ’n positiewe ervaring en ’n mooi storie, maar daar is ook baie mense vir wie aanneming moeilik is – vir die mense wat aangeneem is en die aanneemfamilies.”

Aanneming is op baie vlakke baie meer gekompliseerd as wat mense soms dink en gesinne moet oop-oë in so ’n situasie ingaan, glo sy. 

Die Hartleys het hul seun aangeneem omdat hulle ’n verskil kan maak. Soos die Camphers het hulle gesien daar is ’n groot behoefte aan aanneming in Suid-Afrika.

Hulle wou iemand laat deel voel van wat die Campher-gesin hul “trop” noem.

Cara glo egter daar word te min in Suid-Afrika gefokus op die ervaring van geboortefamilies, “veral die geboortema’s wat kies om hul kind te laat aaneem”.

Raad

Vir diegene wat dink aan aanneem, deel Cara die volgende ondervinding en raad:

  •  Dis belangrik om te besef dat elke aanneming met ’n komponent van verlies kom. “Dis nie net ’n wen-wen vir almal nie, so jy moet ruimte maak in jou manier van kind grootmaak; dat jou kind daai verlies kan verwerk en jy nie bedreig gaan voel daardeur nie.”
  • Dis belangrik om vrede te maak met jou posisie as aanneemouer en nie as biologiese ouer nie. En ek dink dit kan vir mense moeilik wees wat gesukkel het om kinders te kry voordat hulle aanneem.
  • Vir daardie ouers sê sy hulle hoef nie bang te wees hulle sal nie kan liefkry nie.

“As jy die raad volg wat daar is oor hoe om ’n band te vorm met jou kind en jy gereed is om jou kind lief te hê, sal jy jou kind kan liefkry. Daar is duisende stemme wat sê hulle kry ’n kind lief. Selfs ooms en tannies en oupas en oumas se hart word gewen deur ’n klein kindjie.”

  • “Aanneming is om ’n moeilike storie deel te maak van jou storie, want geen aanneming gebeur as daar nie ’n moeilike storie was van een of ander aard nie.” Sy sê dit moenie misgekyk word nie, maar dat mense nie moet onderskat hoeveel liefde en medelye elke mens binne hulself het nie.
  • Sy sê ook daar is dikwels die valse idee dat aannemings baie lank vat. Hulle het ’n baba aangeneem wat nie in pleegsorg was nie en sy sê daar was baie minder van ’n gesloer as wat hulle gedink het.
  • “Ons is ’n transracial adoptive family in een van die mees rassistiese lande in die wêreld en dis nie ’n klein ding nie.

“En miskien is dit iets wat voornemende ouers moet oorweeg. Dis ’n crazy ding om te doen op ’n manier en dit gaan uitdagings bied.

  • “Ons is verskriklik lief vir hierdie ou­tjie. En partykeer verbeel ons ons hy lyk soos ons, want dit kan nie anders nie. Aanneming laat jou die wêreld baie anders sien.”
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.