Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kyk sterre op Paarlberg

Kapenaars en besoekers kan Saterdag die skitterende sterrehemel – spesifiek die sterrebondel 47 Tucanae – van nader leer ken tydens ’n somerpiekniek op Paarlberg.

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van die Orion Observasiegroep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel.

Die tema is Dans onder die Sterre, want die fokus is op 47 Tucanae, die tweede helderste sterrebondel wat pragtig in die suide sigbaar sal wees. Tucanae, genoem na ’n Suid-Amerikaanse voël, is 16 700 ligjare van die aarde en bestaan uit minstens ’n halfmiljoen sterre.

Die pieknieks is baie gewild by plaaslike inwoners en oorsese besoekers, wat veral die mooi vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet.

Dit begin om 18:00 met ’n begeleide toer van die monument om 18:30, waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee mense of R400 met ’n mandjie ingesluit) by die koffiewinkel. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings, asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm klere.

Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelugspeletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders. Daarom word piekniekgangers versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning van dié projek te skenk.

Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Bespreek by 021 863 0543/4809.

Sterrekykpieknieks sal gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie.

Skakel die Taalmonument se kantoor by 021 872 3441 of 021 863 0543 vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.