Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Laaitie’ van Belhar dóén dinge in LA

Die Amerikaanse twang is daar as hy praat, maar wanneer hy gemaklik oorslaan na Afrikaans kan ’n mens hoor hy is van Belhar.

Anton Jeftha is een van Suid-Afrika se akteurs wat vinnig besig is om homself in Amerika te vestig. Hy gooi ’n Kaapse draai om, soos hy dit stel, te kuier en te werk.

Vir diegene wat nie weet wie Anton is nie, hy is die aantreklike kaalkop wat ’n paar jaar gelede die gesig van die versekeraar OutSurance was.

Hy het ook in die Afrikaanse sepie Suidooster verskyn as een van Auntie Moena en Oom AB se tweelingseuns, Riyaaz.

Maar sedert sy OutSurance-dae het Anton egter groener weivelde in Los Angeles gaan soek en hoewel hy aanvanklik gesukkel het, gaan dit op die oomblik baie goed met sy loopbaan.

“Jy verlaat letterlik jou land, waar jy bekend is, om ’n vreemdeling in ’n ander land te wees. Alles wat jy hier bereik het, moet jy weer daar van voor af gaan doen,” sê Anton.

Van die werke wat hy moes doen sluit in juweliersware verkoop, kroegman speel en mense in restaurante bedien.

“In ’n stadium was ek selfs ’n persoonlike assistent vir een van die voorste akteurs in Hollywood.

“Wanneer ’n mens in Amerika kom en jy is onbekend, vat jy eers enigiets om die pot aan die kook te hou, maar jy moenie vergeet van jou drome nie. Jy moet gefokus bly op hoekom jy daar is,” sê Anton.

Só gefokus was hy dat sy naam reeds by verskillende internasionale flieks en reekse verskyn.

Hy het reeds gesig gewys in The Contrast, Comic Relief, Homeland, Dominion, Death Race Inferno, Strike Back, Saints and Strangers en Jamillah and Aladdin.

“Ek sal nie sê ek het reeds my groot kans gekry nie, maar ek dink ek is geseënd om te kan werk. Selfs wanneer ek in Suid-Afrika is, werk ek. Voor ek teruggaan, gaan ek minstens een fliek hier skiet.”

Anton hoop ook om ’n rolmodel te wees vir kinders wat uit dieselfde omstandighede as hy kom.

“As jy in Belhar grootword, is daar baie dinge wat jy moet oorkom. Bendes en dwelms is aan die orde van die dag. Ek weet waarvan ek praat, want ek het dit beleef. My vriend met wie ek opgegroei het, is doodgeskiet toe ek twintig was.

“ Dit is hierdie tipe goed waaraan kinders blootgestel word, maar hulle moet weet hulle is waardevol. Die grootste ding wat kinders uit ons gebiede moet leer, is dat elke mens waarde het en dat ook húlle bo hul omstandighede kan uitstyg.”

Terwyl hy in die Kaap is, moet hy by soveel moontlik van sy baie vriende kuier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.