Die ma van ’n 27-jarige vrou wat verlede week wreed vermoor is, is moedeloos omdat sy nie kan bekostig om haar dogter te begrawe nie.
Bianca Karelse se liggaam is verlede Sondag op die Central Park-sportterrein in Northpine gevind. Sy is met ’n sementblok teen die kop gegooi en dit het vermoedelik haar dood veroorsaak.
Anna Karelse (60) sê haar dogter het gebly waar sy wil en het meestal “geskarrel”, maar het nie verdien om so te sterf nie.
“Sy was onlangs by my en sy het so mooi gelyk. Ek het haar nog ’n rokkie gegee en sy was so dankbaar,” sê Karelse.
Volgens Karelse wou Bianca nie by haar bly nie. “Ek het al baie met haar gepraat om huis toe te kom, maar sy wou nie. Ander mense het ook al by haar gepleit om meer aandag aan haar kinders te gee, maar niemand kon tot haar deurdring nie. Sy het onlangs twee keer hier met ’n jong opgedaag wat sy as haar nuwe kêrel voorgestel het, maar ek het nie baie van hom gehou nie.
“Sedert Bianca se dood was hy nog nie een keer hier nie, maar hy was kamma haar kêrel. Hy was die laaste mens saam met wie sy was,” sê Karelse. Die man se naam is aan TygerBurger bekend.
Asof dit nie genoeg is nie, was Bianca se doodgenootskapsfooie nie op datum nie en bestaan die moontlikheid dat sy nie deur hulle begrawe gaan word nie.
“Die man van die doodsgenootskap was al twee keer hier om geld te kom haal, maar hy sê die kans dat hulle Bianca gaan begrawe, is skraal omdat die gelde nie betaal is nie. Ek kry maar ’n pensioen en kan nie bekostig om haar te begrawe nie. Waar sal ek nou die nodige R7 000 kry?” vra Karelse.
Jacobus Jacobs van die Scottsdene-Samaritane, ’n organisasie wat hulpbehoewendes help, sê hulle gaan alles in hul vermoë doen om Karelse by te staan om haar dogter begrawe te kry.
“Ons kan nie toesien hoe ’n moeder sukkel om die dood van haar dogter te verwerk en dan nog moet sukkel om haar te begrawe nie,” sê Jacobs.
Intussen is Bianca se kinders wat onderskeidelik 8, 6 en 5 jaar oud is, deur die hof in pleegsorg geplaas.
Die polisie kon teen druktyd nog nie sê of daar ’n verdagte is en hoe die ondersoek vorder nie.