Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man beroof toe hy in park werk
Tieners vas na hulle man beroof met n vuurwapen

’n Bemarkingspesialis wat verlede Donderdag in ’n park in Aurora in Durbanville op sy skootrekenaar sit en werk het, is deur mans met ’n mes gedreig en beroof.

Volgens Rudi Laing (30) het hy in die Aurorapark in Odendaalstraat gaan sit en werk omdat dit te veel by sy blyplek geraas het weens bouwerk in die straat.

“Ek draf gereeld in Aurora en het gedink dis veilig om in die park op die bankie te sit en werk en oproepe maak. Daar was ander mense met hul honde in die park; kinders het daar gespeel,” sê hy.

Volgens hom was hy skaars ’n kwartier daar toe hy omstreeks 12:30 in sy rekenaarskerm die weerkaatsing sien van ’n kar wat stadig agter hom in Odendaalstraat verbyry. Hy het omgekyk en gesien die vier mans in die wit Toyota Tazz hou hom dop.

“Ek het nog twee minute van my video-oproep oorgehad en het besluit om daarna op te pak, omdat ek ongemaklik gevoel het – maar toe nie betyds nie,” sê hy.

Hy het kort daarna twee mans agter hom in die weerkaatsing van sy rekenaarskerm gesien naderkom. Die een het ’n lang kombuismes dreigend voor sy maag gehou.

“Ek kan nie onthou of ek die skootrekenaar vir hom gegee of gegooi het nie. Alles het so vinnig gebeur,” sê hy.

Die mans is vort met sy Apple MacBook Pro-skootrekenaar en Samsung-selfoon ter waarde van onderskeidelik R50 000 en R15 000.

Volgens Laing het hy agter die mans aangehardloop in Odendaalstraat en af in Aurorastraat. Die mans het vermoedelik in ’n systraat in die wagtende Tazz gespring en weggery.

“Ek het sover ek hardloop geskree om aandag te trek. Mense het oral op hul balkonne uitgekom om te kyk wat aangaan. Ek het later gehoor daar is ooggetuies wat die mans in die wit Toyota Tazz sien klim en wegry het,” sê hy.

Videomateriaal van die voertuig is op die nommerplaatherkenningskamera (LPR) -stelsel opgeneem en die voertuig met sy CV-registrasienommer is dieselfde aand omstreeks 23:00 in Uitzicht in Durbanville opgemerk.

Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het ADT Security die voertuig gesien en agternagesit. Die mans daarin het egter uitgespring en die voertuig is verlate gevind. Die polisie het daarop beslag gelê.

Volgens Rhode staan die kar nou by die polisiekantoor.

“Die kar is nie gesteel nie, maar is van die stelsel geskrap. Mense van Fisantekraal het kom beweer dis hul kar,” sê Rhode.

Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.