Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
MES sprei sy vlerke

Die knaende probleem met straatmense in Durbanville is ’n bron van groot irritasie én kommer vir inwoners, veral nou tydens die Covid-19-pandemie.

Weldoeners het die probleem vererger met die uitdeel van tente, wat straatmense orals in die dorp opgeslaan en daarin nes geskop het.

Daar is egter ’n silwer randjie om dié donker wolk nadat Mould Empower Serve (MES), ’n nie-regeringsorganisasie wat met straatmense werk, die groen lig by Stad Kaapstad gekry het om sy werksaamhede vanaf 12 September permanent vanuit die Rosehaven-gebou in Queenstraat te bedryf.

Die gebou, wat aan die Stad behoort, is die afgelope sowat 37 jaar lank deur die Durbanville Lions-klub gebruik. Dié klub se wind is uit sy seile nadat hy sowat ’n maand gelede deur die Stad ingelig is sy huurooreenkoms gaan nie hernu word nie en hy moet die gebou teen 11 September ontruim.

Buiten die klub se legendariese bingo-aande vir bejaardes wat daar aangebied is, het talle ander organisasies, onder meer die Tygerberg-Hospies, ook dié gebou benut vir sy byeenkomste en dienste aan bejaardes, wat stapafstand in nabygeleë komplekse woon.

Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, het aan TygerBurger gesê daar word gesoek na ’n nuwe gebou waar die Durbanville Lionsklub sy dienste kan voortsit.

MES is nie nuut in Durbanville nie, maar het al in 2014 begin om met plaaslike organisasies te praat oor ’n plan vir straatmense.

MES bedryf tans nog sy werksaamhede vanuit sy invalsentrum by die Durbanville Presbeteriaanse Kerk.

“Ons het destyds in ’n vennootskap met die sopkombuis gegaan vir voedselsekerheid,” het Ilse Maartens, takbestuurder van MES Kaapstad, gesê.

“Ons het dit gekoppel aan ’n etekaartjie-stelsel.”

“Die publiek kan ’n kaartjieboekie teen R50 elk by Tygervallei-winkelsentrum se inligtingskiosk, plaaslike kerkkantore of die MES-kantoor in Bellville koop.

“As iemand by ’n verkeerslig of voordeur kos vra, kan ’n koepon gegee word wat in Parow, Bellville, Durbanville of Brackenfell vir ’n ete geruil kan word. 

MES lewer hoofsaaklik basiese sorg soos etes, klere en komberse. Die organisasie lewer ook traumaberading, verenig straatmense met hul families, help hulle met persoonlike ontwikkeling, asook met rehabilitasie van dwelm- en alkoholverslawing. 

In stormweer reël MES slaapplek in kerksale in samewerking met plaaslike kerke.

“In 2015 het ons begin met die werksrehabilitasieprogram Grow vanaf die taxi-staanplek, wat straatmense die geleentheid bied om vir vier ure te werk deur strate skoon te maak teen R65 per skof. 

“Hierdie program lewer ’n diens aan die gemeenskap. Ondernemings kan spanne huur om rondom hul geboue skoon te maak. Hoe meer ondernemings betrokke raak, hoe meer skofte en hoe meer meer straatmense kan hieruit baat. 

“Saam met hierdie programme word maatskaplike dienste, asook arbeidsterapeutiese dienste, op ’n ad hoc-basis aangebied,” het Maartens gesê. 

“Ons wil langtermyn oplossings in plek stel. Ons werk slegs in vennootskappe. Die oplossing lê nie net in een organisasie nie, maar hoe almal saam van een plan af werk. Daarom werk ons saam met organisasies soos Uturn, Durbanville Can, Fisante Community Development Trust, die Durbanville-sopkombuis, D4J-kerkgroep, die plaaslike regering, asook ondernemings soos Ipic Aurora Spar, Mugg ’n Bean Palmgrove-winkelsentrum en Palmgrove Spar. 

“Maar ons het nou meer plaaslike publieke en sakesteun nodig as ons die holistiese diensmodel wil vestig. Slegs deur hierdie benadering sal ’n mens haweloosheid die hoof kan bied,” sê sy. 

Volgens Maartens werk hulle sedert November 2019 met 43 straatmense op gereelde basis. “Ons is besig om met verskillende buurtwagte te praat om te hoor waar daar groepe is waarvan ons nog nie weet nie. Die doel is om ’n volledige databasis saam te stel. 

“Mense wat woon en werk op die straat is nie almal een groep nie. Daar is die wat op straat is gedurende die week omdat iemand ’n tuinwerkie belowe het en dit goedkoper is om hier te bly as om elke dag heen en weer te ry huis toe. 

“Dan is daar mense wat deur geweldige armoede of bendebedrywighede op straat geland het. Daar is ook die groep wat op straat gebore en hul hele lewe op straat deurgebring het. 

“Elkeen van hierdie groepe se intervensies lyk verskillend en daarom is korrekte data baie belangrik.” 

Volgens haar was daar net in vlak 5-inperking ’n dramatiese verhoging van mense wat by hulle vir kos kom aanklop het – tot 110 op ’n dag. 

“Baie was van Morningstar of Klipheuwel en dit het gegaan oor voedselsekerheid. 

“In hierdie tyd Durbanville Can en Uturn ons gehelp aangesien ons in daardie tyd na 1 100 mense moes omsien in Parow, Bellville en Durbanville. 

“Die Durbanville-sopkombuis het ons deurentyd van sop voorsien – tot 500 liter per keer. Ons het die sop in Durbanville kom oplaai en uitgedeel daar waar nood was. Sonder hul ondersteuning sou ons nie in al die areas kon kos gee het nie.

“Met vlak 3-inperking het ons getalle weer gestabiliseer rondom 60 mense per ete,” het sy gesê.

“Ons besef daar is basies twee reaksies op haweloosheid. Aan die een kant is daar mense wat empatie het vir die kompleksiteit daarvan en aan die ander kant die mense wat al keelvol gesukkel is. 

“Al is daar hierdie teenpole, is almal se doel dieselfde: die mense moet van die straat af. Vir ons om by daardie doel te kom, vra ons mense moet meer verantwoordelik optree.”

Sy het mense versoek om nie geld aan straatmense te gee nie. 

“Gee liewer koepons of verwys straatmense na ons invalsentrum. Huur (of borg) ons Grow-skoonmaakspanne, of kom bied jou tyd en kundigheid aan,” sê sy.

“Met Covid-19 het daar weer hernude fokus gekom, waarvoor ons dankbaar is, want die kwessies rondom haweloosheid was nog altyd ’n werklikheid. Gelukkig is daar nou ander wat ook hul stemme tot ons s’n voeg,” sê sy.

Maartens het gesê dat hulle reeds op 12 September wil begin om die gebou in Queenstraat reg te kry om op 1 Oktober hul deure te kan open.

“Die vloer is stukkend en ons sal graag die toilet wil oordoen. Die kombuis sal ook aandag moet kry,” het sy gesê.

Volgens David Jacobs, president van die Durbanville Lionsklub, is die sentraalgeleë Rosehaven-gebou ook gebruik deur die Durbanville Seniors Hub, Alkohol Anoniem (AA) en Blind Chess, wat hul toernooie daar aangebied het. 

Kerspartytjies, opleiding en ander fondsinsamelingsprojekte is ook gereeld daar aangebied.

Uys het aan TygerBurger gesê die Subraad 7 en amptenare het volgende week ’n werksessie waar al die stadsgeboue in Durbanville onder die loep sal kom. 

“Alle huurooreenkomste vir stadsgeboue, ook sportgeboue, moet aan die einde van hul huurtydperk hernu word. Daar sal gesoek word na ’n permanente tuiste vir die Durbanville Lionsklub,” het sy gesê. Volgens haar is ’n tydelike lokaal gevind vir die Durbanville Lionsklub se vergaderings, maar moet al die kontrakte eers geteken word voordat hulle die organisasie daaroor kan inlig.

  • Kontak Enrique Hermanus, MES Durbanville se programbestuurder, by 074 652 7073 om betrokke te raak. MES het ook tans ’n halfdagpos vir ’n maatskaplike werker wat gevul moet word om dienste in Durbanville te hervat. Stuur aansoeke na glenda@mes.org.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.